Boorgat ’n wit olifant

Yolanda Nel
’n Boorgat wat eintlik die inwoners van Dordabis moes help, staan nou verlate omdat die niemand die diesel kan bekostig om water te pomp nie.

Volgens lede van die gemeenskap word hulle genoop om water onwettig van die polisiestasie te bekom. ’n Inwoner, Simeon Paulus, het aan Nampa gesê hulle sukkel om die N$30 bydrae vir die diesel in te samel.

“Die grootste uitdaging is dat baie van Dordabis se inwoners werkloos is en dit maak dit moeilik vir hulle om die diesel te bekostig,” sê hy.

Volgens nog ’n inwoner, Petrus Areb, het beamptes by die polisiestasie die krane toedraai en word inwoners sonder enige water gelaat.

“Die regering moet ons, deur die raadslede, hiermee help,” sê Areb, “want nou sukkel ons selfs om water onwettig by die polisiestasie te kry.”

Volgens Windhoek se landelike kieskringraadslid, Penina Inga-Ita, is die gemeenskap van Dordabis nie in staat om selfs ’n geringe bydrae te lewer vir die diesel nie, maar verwag hulle van die regering om alles vir hulle te doen. “Ons moet saam werk om te verseker dat daar ontwikkeling is,” sê sy.

Net 30% van die sowat 2 500 inwoners op Dordabis het werk.