Die fat girl en 'n geel bikini

Yolanda Nel
Dit fassineer my hoe ander mense lewe. Wat doen hulle anders? Waaruit bestaan hulle dag?

In Thailand word ek in 'n ander wêreld gedompel. 'n Wêreld vol vreemdheid, wat op Namibiese bodem nooit gesien sal word nie en nooit sal werk nie.

'n Verkeerslig in Phuket tel die sekondes vir haastige motoriste af voor die lig vir hulle sal groen slaan. Agter op 'n motorfiets, keer ek om elke draai net vir my kniekoppe, want ek is oortuig dit gaan iewers in die slag bly. Die bestuurder ry oor sewe rooiligte voor hy my (veilig) by die hotel aflaai. Dit is eers daarna wat ek 'n bord sien wat lees dat jy mag links draai al is die lig rooi, solank dit veilig is om dit te doen.

Ek probeer myself indink hoe só 'n reël in die woestynland sal werk, maar die katastrofe wat in my geestesoog afspeel, laat my onmiddelik die idee laat vaar. Na dag vier agterop die motorfiets het ek nie meer aan die bestuurder se middel geklou wat my knaap sou jaloers maak nie. Ek het sorgvry die wind deur my hare laat blaas.

Die reuk van kerrie hang al vroegoggend om elke hoek en draai in die lug. Rys en kerriehoender is almal se ontbyt-stapel. Vanaand eet hulle die oorskiet. Môre bederf hulle hulself dalk met vark. Na twee weke verlang ek na 'n kaastoebroodjie met baie botter, want die mense ken nie suiwel nie. Net so ken hulle ook nie rooivleis nie en kos 'n snack burger by een van 700 McDonald's takke N$45.

By 'n plaaslike mark (nie iets wat iemand hier al ooit beleef het nie) word iets geel uit 'n spuitsak gedruk. Dit lyk of hy nou 'n koek gaan versier. Maar dis 'n botter of 'n olie waarin die bleek hoender (kom ons noem dit hoender) gebraai gaan word. Die bedryf kleur die hoender net oranje en na die eerste hap besef ek dit wat ookal ek nou gehap het, enige iets kan wees behalwe hoender. Ons het besluit poodle is meer akkuraat.

In die mark daag die mense jou uit om jou eie prys te maak vir die sewende toppie met 'n olifant op. Sodra jy ooreenkom oor 'n prys, wil hulle weet hoeveel jy soek. Een is nie die regte antwoord nie en dus sit ek nou met ses olifant hempde.

In Thailand verwys hulle na my as die fat girl, want my Afrika-heupe en skouers pas nie in hulle klere nie. Ek kry skaam en eet nie weer roomys vir my hele kuier nie. Dit plaas ook 'n demper op die feit dat ek vir die perfekte baaikostuum soek vir die perfekte seevakansie. Die demper is nie te groot nie, want ons loop ons voete blase agter daai bikini aan. Dit vat twee dae se loop, maar ek sien haar op 'n afstand - kanarie geel. “That one,” sê ek vir die vrou. Sy begin nog vir my verduidelik sy het 'n mooi pienke en bloue wat dieselfde lyk, maar ek skud my kop, ek soek daai een in haar hand.

Ek is 'n size F sê sy vir my en wou my vererg, maar gelukkig dit beteken toe 'n free size en nie 'n fat size nie. Daardie aand sukkel-sukkel ek myself in my nuutste aankope aan. My gil weergalm uit die badkamer, my vriendin koes skoon. Ek lyk soos 'n gestopte wors. “Ons moet nog een gaan soek, hierdie een is gebreek.”