Kamp bring nuwe hoop

Yolanda Nel
Yolanda Nel

In ’n poging om weerlose kinders nuwe hoop te bied, word ’n kamp in Augustus aangebied om die uitkyk op hul lewe nuwe rigting te gee.

“As daar nie ingegryp word nie, word kinders wat mishandel is oortreders wat ander weer mishandel,” sê Charlene Hill, ’n maatskaplike werker en organiseerder van die Royal Family kinderkamp. “Ons moet vir ons kinders leer dat hulle omstandighede nie altyd gaan wees soos dit is nie, maar dat hulle houding en hul keuses ook ’n rol daarin speel,” sê sy.

Twintig kinders tussen die ouderdom van 8 en 12 jaar sal vanjaar die kamp tussen 26 en 30 Augustus op Midgard bywoon. Die program fokus veral op kinders wat mishandel en verwaarloos is. Die kamp word al sedert 2011 aangebied en sê Charlene is dit ’n ongelooflike ervaring om te sien hoe die kinders groei. “Hulle kom kwaad en skaam daar aan en dan word hulle kinders wat lag en maats maak,” sê sy.

Hulle sien ook ’n merkwaardige verskil in die kinders wat die kamp meer as een keer bywoon.

“Ons gee ’n kind die geleentheid om terug te kom as hy of sy jonger as 13 is. Dit is regtig wonderlik om te sien hoe baie hulle in ’n vyf jaar-tydperk kan groei.”

Tydens die kamp is daar 40 volwasse vrywilligers wat met die kinders help. Behalwe vir die swemgeriewe, neem die kinders deel aan ’n skattejag en doen hulle kuns en wetenskapeksperimente. Daar is ’n ook ontbytklub waar hulle Bybelstudie doen.

“Hierdie kinders sien nog nie die groter prentjie vir hul lewe nie. Hulle weet net iemand het hulle te na gekom en hulle vertrou moeilik,” sê Charlene.

Daar is ’n behoefte aan ’n bussie wat die kinders op 26 Augustus na Midgard kan neem. Enige vars kosprodukte sal ook waardeer word. ’n Bedrag van N$5 000 word ook benodig vir die kinders se t-hempies vir die kamp. Navrae: Charlene by 081 601 0587.