Kom kuier saam by Auas Hills

Yolanda Nel
Yolanda Nel

Die potte gaan hierdie naweek behoorlik prut by die Auas Hills aftree oord se potjiekoskompetisie.

Volgens Monika Barnard wat ’n lid is van die oord se sosiale klub, is die kompetisie deel van ’n geldinsamelingsprojek. “Ons wil graag ’n hysbak aanskaf om dit vir die bejaardes makliker te maak om van hul huise na ander dele van die oord te kom,” sê sy.

Altesame 13 spanne het vir die kompetisie ingeskryf en moet hulle elk ’n voorgereg, hoofgereg en nagereg vir 15 persone voorberei. Etekaartjies is vir N$60 te koop.

“Daar is in elke kategorie drie pryse te wen en kan die wenner Saterdag met N$1 000 kontant wegloop,” sê Monika. In die tweede plek is daar N$500 op die spel en in die derde plek ’n N$300 geskenkbewys van SuperSpar in die Maerua leefstylsentrum. Die kontantpryse is deur Bank Windhoek geborg.

Namib Foam het ook ’n bed vir die geleentheid geborg wat Saterdag in gelukstrekking ’n nuwe huis sal kry.

“Hierdie beloof om ’n dag vol pret en plesier te wees,” sê Monika opgewonde. Charlie en Ansa Ellis, sowel as Chris Theron, is die beoordelaars vir die potjiekoskompetisie.