Mej. Namibië gesels oor dwelmmisbruik

Yolanda Nel
Bekommerde ouers, onderwysers en gemeenskapslede is raad op oor die dwelmgebruik onder jongmense op Rehoboth ná 'n 13-jarige verlede naweek hieroor inhegtenis geneem is.

Die polisie op Rehoboth het verlede Vrydag drie mense in hegtenis geneem ná sowat 20 mandrax tablette, asook 31 sakkies dagga en nagenoeg N$800 kontant in hul besit gevind is. Die verdagtes is 13, 18 en 29 jaar oud.

Die polisie het Saterdag weer toegesak en 'n 17-jarige meisie is inhegtenis geneem ná 250 sakkies dagga met 'n straatwaarde van sowat N$16 000 in haar besit gevind is. Die polisieondersoeke duur in beide sake voort.

Windhoek Express het verlede week berig oor die inhegtenisneming van 'n jong man nadat hy in die besit van dagga met 'n straatwaarde van sowat N$10 500 betrap is.

Bekommerde ouers en gemeen-skapslede het vroeër hierdie maand 'n praatjie gehou oor die dwelmeuwel wat in die dorp kop uitsteek. Van dié ouers het al hul kinders by die smokkelhuise in die dorp gaan soek. “Dis aaklig om te sien hoeveel meisies, sommiges graad 8-meisies, uit daardie huis hardloop,” het een ouer gesê.

Om op die probleem te fokus, het Mej. Namibië 2017, Sune January, besluit om betrokke te raak en die ander sy van dwelmgebruik in die kollig te plaas.

Talle mense word weens werkloosheid en ander probleme na dwelms en alkohol gedryf. “Maar jy kan daaruit ontsnap,” sê sy.

Sune is die naweek by die Rehoboth ekspo te sien waar sy gerehabiliteerde dwelmverslaafdes 'n platform gee om hul verhale te deel.

“Daar is mense wat bewys dat hulle loskom uit die kloue van dwelmmisbruik en hulle werk hard om weer op hul eie voete te staan,” sê Sune.

“Ons het tien stalletjies by die ekspo waar ons vir mense die geleentheid gee om hul handewerk ten toon te stel en te verkoop. Hulle het hul hele lewe verander om gesonder te leef en 'n vrugtevolle lewe te geniet. Tog bly alles rondom hulle dieselfde. Meeste van hulle het steeds finansiële tekortkominge. 'n Platform soos dié, waar hulle hul goedere kan uitstal, stel hulle in staat om weer kos op die tafel te sit,” sê Sune.

Sy werk nou saam met die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, en 20% van hierdie stalletjies se winste, sal gebruik word om hulle te help om weer materiaal aan te skaf vir die volgende ekspo wat gaan plaasvind.

“Dit is mense wat reeds bewys het dat hulle skoon is en dat hulle 'n verskil in hul eie lewe gemaak het. Ek hoop dit maak mense se harte oop om hierdie mense ook 'n kans vir die toekoms te kan bied.”

Volgens haar is die grootste probleem dat hierdie mense steeds verstoot word. “Ons moet 'n daadwerklike verskil maak. Ons as gemeenskap moet hulle nie verstoot wanneer hulle wil verander nie,” sê sy. “Ons moet hulle juis dan ondersteun, anders is ons deel van die probleem wat hulle heel moontlik kan terugdryf na 'n lewe van verslawing.”

Sy sê dit is mense wat weet van die donkerste donker, wat kan help om die verslawingsprobleem aan te spreek.

“Almal in die gemeenskap moet hande vat en saam staan, omdat dit jong kinders is wat hieraan blootgestel word.”

Onder die entrepreneurs maak hulle waterfonteintjies en houtwerk.

Maak seker jy loop hulle nie mis nie!