Niks kom van petisie

Yolanda Nel
Etlike weke ná die Kleine Kuppe Buurtwag (KKNHW) 'n petisie aan die stadsraad gerig het, is daar nog steeds geen terugvoering ontvang nie.

Die petisie het ten doel om enige persone van boupersele, insluitende bouers, na ure op die terrein te verbied.

Volgens Sarel Hannekom van die KKNHW, hou boupersele 'n gevaar vir inwoners in en word dit deur diewe as wegkruipplek gebruik. “Konstruksiemaatskappye mag net een of twee sekuriteitswagte aanstel om deur die loop van die nag daar wag te hou,” sê hy.

Eposse is reeds vroeg in Junie aan die stadsraad gerig om 'n vergadering byeen te roep om die saak te bespreek, maar nog geen terugvoer is ontvang nie.

“Dit is belangrik dat die stadsraad 'n beroep op die polisie doen om te verseker dat niemand oornag op boupersele bly nie,” sê Hannekom.

Volgens hom moet die stadsraad die polisie opdrag gee om mense van boupersele te verwyder. “Buurtwagte en die polisie moet saamwerk om die veiligheid van die inwoners te verseker,” sê hy.

Volgens hom is dit nie net 'n probleem wat in Kleine Kuppe kop uitsteek nie. “Dit gebeur regoor Windhoek en die situasie moet aangespreek word,” het Hannekom gesê.

Sowat 540 handtekeninge is reeds vir die petisie ontvang.

Die KKNHW het vroeër die week weer 'n epos aan die stadsraad gestuur vir terugvoer, maar volgens die skakelbeampte van die stadsraad, Lydia Amutenya, dra hulle geen kennis van die petisie wat aan hulle gestuur is nie.