Nog 'n uitbreiding kom in hoofstad

Yolanda Nel
'n Aansoek deur African Sunrise Investments vir dorpstigting en goedkeuring van die uitleg daarvan in die hoofstad, is goedgekeur ná dit einde verlede jaar vir 'n tweede keer by die Windhoekse munisipaliteit ingedien is.

African Sunrise Investments word deur die Dr. Hage Geingob Family Trust (20%), sy voormalige eggenote Loide (20%) en die Chinese sakeman Yuequan “Jack” Huang (60%) besit.

Die aansoek wat in November 2016 deur Urban Dynamics Town and Regional Planners ingedien is, volg ná die eerste aansoek in April verlede jaar ontvang is.

Die bykans 40ha grond wat vir die ontwikkeling geoormerk is, is langs die B6-pad na die Hosea Kutako lughawe geleë, en bestaan uit 142 erwe waarop losstaande huise, duplekse en komplekse opgerig gaan word. Institusionele- en twee besigheidserwe word ook vir die projek beplan.

“Die munisipaliteit is onder geweldige druk om gedienste grond be-skikbaar te stel en ingryping deur die privaatsektor is welkom,” sê die stadsraad oor dié ontwikkeling.

Tog, hoewel die ontwikkeling in die hoofstad nodig is, is die ligging van die projek baie omgewingsensitief.

“Die ontwikkeling is binne die Windhoek waterdraersone en moet daar aan streng vereistes voldoen word om te verseker dat dié sone beskerm word,” aldus die stadsraad. In die aansoek is die stadsraad versoek om 'n nul-begiftiging goed te keur ten opsigte van die omvang van grootmaat-infrastruktuur wat deur die ontwikkelaar opgerig moet word. Hoewel die ontwikkeling en die uitleg daarvan goedgekeur is, was die stadsraad nie ten gunste van die nul-begiftiging versoek nie.

Die aanbevelings van die stadsraad vir die projek strek oor sewe bladsye en sluit in dat 'n geohidroliese studie voltooi moet word. Die departement van stedelike vervoer en beplanning is ook gemagtig om nodige veranderinge aan die uitleg te bring om die proklamasie en die voorsiening van dienste te fasiliteer. Ander aspekte wat in ag geneem word is die omgewing, elektrisiteit, padbeplanning en ingenieursdienste.

Daar bestaan kommer uit verskeie oorde oor die betrokkenheid van die kontroversiële sakeman Jack Huang by die ontwikkeling, veral in die lig dat die Namibiese regering verlede jaar 'n nuwe wet oor grondbesit deur buitelanders ter tafel gelê het. Die wet verhoed dat buitelanders enige landbou-, kommersiële- en gemeenskaplike grond mag besit. Die wetsontwerp maak egter nie voorsieing om buitelanders te verhoed om grond in stedelike gebiede te besit nie.