Paaie eis weer 'n tol

Yolanda Nel
Yolanda Nel

Mense wat tussen 20 en 27 Augustus vanjaar tydens motorongelukke gesterf het, het die dodetal van 445 na 496 vir die jaar laat styg.

Volgens die Motorvoertuigongelukfonds (MVAF) se webwerf, is daar tussen Januarie en 27 Augustus minder ongelukke in vergelyking met verlede jaar oor dieselfde tydperk, met die getal ongelukke wat op 2 639 staan. Minder beserings is ook opgedoen – 4 662 vanjaar teenoor 4 812 in 2016.

Die aantal sterftes vanjaar op die pad is egter 34 meer as verlede jaar oor dieselfde tydperk.

Die MVAF het verlede week ’n beroep op motoriste gedoen om paraat te wees, veral wanneer kinders vervoer word. “Motoriste moet ten alle tye by die spoedgrens hou, nugter bestuur en waaksaam wees,” sê Mona-Liza Garises, hoof van korporatiewe kommunikasie by die MVAF.

In 2016 het kinders onder die ouderdom van 15, ses persent van die totale beserings en 11% van die totale sterftes, verteenwoordig.

“Kinders onder 15 jaar is kwesbaar vir voetgangerverwante ongelukke,” sê Garises.

Ander statistiek dui daarop dat 74% van sterftes in motorongelukke jongmense tussen 16 en 35 jaar oud is, waarvan 22% voetgangerverwant is en vier present fietryers verteenwoordig.

Om die getal sterftes waarby voetgangers betrokke is, te verminder is die spoedgrense op die Westelike verbypad reeds verminder. Volgens die korporatiewe kommunikasie bestuurder van die Paaie-owerheid, Hileni Fillemon, is daar reëls wat vir bestuurders en voetgangers geld. “Hulle het ’n verwoordelikheid teenoor hulle eie veiligheid,” het sy gesê.

Hoewel daar geen padkruisings op die Westelike verbypad is nie, sê Fillemon, “voetgangers mag nooit ’n pad oorsteek indien dit nie veilig is om so te maak nie”.

Talle ander veldtogte is reeds van krag om te verseker dat paaie veiliger is. Volgens Henriëtte Crouse van die STAND Sober-veldtog wat op 1 Augustus afgeskop het, begin hul harde werk vrugte dra.

“Ons sien ’n verandering in bestuurders,” sê sy. Volgens haar was ’n span twee weke gelede in Evelynstraat om die straat, gewild vir sy kuierplekke, te patroleer. “Geen ongelukke is daardie aand daar aangemeld nie,” sê sy.

Tog sê Crouse dit is nie net dronk bestuurders wat ongelukke maak nie. “Bestuurders in die algemeen vat baie onnodige kanse op die pad.”

Windhoek Express het navrae ontvang dat passasiers ook getoets word vir alkoholgebruik. Vrae aan belangegroepe van die veldtog oor hoekom passasiers ook getoets word en of dit nie die data gaan beïnvloed nie, is teen druktyd nog nie beantwoord nie.

Die STAND Sober-veldtog het ten doel om elke dag 2 500 mense af te trek en te toets vir alkohol om bestuurders wat onder die invloed van drank bestuur, te verminder. Die veldtog sal tot Desember duur.

Die veldtog word moontlik gemaak deur finansiële steun en enige besigheid wat hierby wil betrokke raak, kan Crouse by [email protected] kontak.