Probleme neem op Rehoboth toe

Yolanda Nel
Yolanda Nel en Augetto Craig

Rehobothers se plan om gister die B1-roete tydens ‘n protesoptog te versper, was teen druktyd eers van die baan.

Kerkleiers is bewus van die ongelukkigheid onder die inwoners, maar het vir samewerking gevra en sê hulle moet geduldig wees. Die optog is eers uitgestel weens ‘n hangende forensiese ondersoek deur ‘n span van die minister van stedelike en landelike ontwikkeling.

Die doel van die optog was om die B1-roete toe te maak. “Almal weet mense suid van Windhoek staar baie meer gevaar in die gesig wanneer hulle saam staan teen die regering,” sê ‘n inwoner.

Hy verwys na die kwessie van die kinders van die vryheidstryd en sê, “die regering reageer nie met die weermag teen hulle nie en daar word nie op hulle geskiet nie, maar dit gebeur wel wanneer ons gemeenskappe in vrede saamtrek.”

Die probleem op die dorp is dat alle klagte op dowe ore val. “Ons voel geïgnoreer,” sê ‘n inwoner wat weens sy veiligheid wil anoniem bly.

Hoewel die klagtes op die dorp geen geheim is nie, is die nuutste die moontlikheid dat Nampower die dorp se krag gaan afsny. Op ‘n sosiale media blad het inwoners hul misnoeë teenoor die dorpsraad uitgespreek oor die probleem. Dit blyk die dorpsraad skuld die elektrisiteitsverskaffer nagenoeg N$7 miljoen. Die raadsvergadering wat Maandag plaasgevind het, het in chaos ontaard. “Terwyl daar dringende sake op die tafel is, gaan die beleerde Swapo-raad voort met hul binnegevegte,” sê een op die Facebook-blad.

Talle het op die sosiale-media blad die elektrisiteitverskaffer uitgedaag om wel die krag te sny. “Laat die krag gesny word, dat Rehoboth weer kan opstaan,” het een geskryf.

Nampower wou geen vrae van die media beantwoord nie en het gesê hul kan nie bevestig of die krag in die dorp gesny gaan word of nie.

“Dit is nie ‘n geheim wat in Rehoboth aangaan nie, maar genoeg van die probleme, kry eerder oplossings,” het nog ‘n inwoner op sosiale media van hom laat hoor. Volgens die inwoner het die probleme begin sedert die aanstelling van die uitvoerende hoof, Christoph /Uirab, "wat nie ‘n benul het van die geskiedenis van die dorp nie en nie die mense ken nie".

“Politiek is die ondergang van ons eens pragtige dorp. Hoe moet iemand ons kom help as hy nie weet wat Rehoboth was en kan wees nie,” sê hy.

“Inwoners smeek al maande vir deursigtigheid en kommunikasie van die dorpsraad en nou sit die hele dorp in die gemors omdat ons opsy geskuif en geïgnoreer word.” Volgens hom staan die inwoners saam en het hulle self oplossings vir die gemeenskap.

Volgens die inwoners moet iemand wat bereid is om te veg en wat liefde en ‘n visie vir die dorp het, die posisie beklee.



Benewens dit is inwoners briesend na hulle uitgevind het, die menslike hulpbronne-bestuurder, Willie Swartz, beklee nou die pos as waarnemende uitvoerende hoof van die dorpsraad. “Hy is nie eers veronderstel om op die perseel te wees nie en nou staan hy in tot einde van die maand,” sê ‘n inwoner.

Shaningwa het in die week wel bevestig dat Swartz onwettig as werknemer by die dorpsraad aanbly. Sy het reeds in November verlede opdrag gegee dat hy uit sy pos verwyder moet word. “Ek het reeds instruksies aan die burgemeester en die dorpsraad gegee en dit is nou op hulle om daaraan te voldoen,” sê sy . “Hulle het hom onwettig aangestel,” sê sy.

Volgens haar het sy nie tot die laaste dag geweet van sy aanstelling as waarnemende hoofbeampte nie. “Die man is onwettig en dat hy daar bly is nog onwettig, en as hulle hom salaris betaal is dit ook onwettig,” volgens die minister.

Swartz staar blykbaar 20 klagte van diefstal, korrupsie en ernstige wangedrag in die gesig. Dit sluit glo geldverduistering van meer as N$13 miljoen in. Die verliese wat deur die dorspraad aangegaan is het sowat N$1.8 miljoen beloop.

Sys ê dat sy nie uitvoerende beamptes aanstel of afdank nie. “Dit is die dorpsraad en die munisipaliteit wat haar opdragte moet uitvoer: “Dit is vir hulle om die eerbare ding te doen,” sê sy.