Sneespapier kom vir Gobabis

Yolanda Nel
'n Entrepreneur op Gobabis se plan om 'n sneespapierfabriek op die dorp te begin, mag dalk binnekort 'n werklikheid word.

Hiskia Tjitua sê hulle is besig met finale onderhandelinge met finansiële instansies. “Sodra dit voltooi is, sal die projek voortgaan soos beplan,” sê hy.

Volgens Tjitua is hierdie 'n groot projek wat baie kapitaal verg. “Alles anders is reeds in plek vir die projek om te begin.”

Die fabriek het ten doel om reuse rolle sneespapier te vervaardig wat gebruik word om onder meer toiletpapier te maak. Die projek is reeds in Augustus 2016 deur die destydse minister van handel en nywerheid, Tjekero Tweya, bekendgestel.

Die Gobabis munisipaliteit het reeds grond vir die projek beskikbaar gestel. Hiskia het in 2016 gesê die projek sou sowat 25 mense in diens neem, wat kan groei tot 400 permanente en tydelike werksgeleenthede.

Die projek sal herwinde papier gebruik om nuwe papier te maak. “Deur hierdie inisiatief sal dit die dorp skoon hou en sal dit tot minder gemors in die omgewing lei.”

Hierdie is die tweede fabriek wat in minder as vyf jaar op Gobabis opgerig word, met die Soft Cloud toiletpapierfabriek wat einde 2012 geopen het.

 - Nampa