Sokkietyd op Okahandja

Yolanda Nel
As die voete nou al 'n geruime tyd juk vir 'n heerlike langarmdans, moet dié geleentheid op Okahandja nie misgeloop word nie.

Streethouse Entertainment Theme Park bied Saterdag 'n langarm sokkie, wat beloof om 'n gesellige kuiergeleentheid te wees.

“Ons wil met hierdie geleentheid aan inwoners van Okahandja wys dat hierdie park 'n familie instansie is,” sê Samantha Walters van Streethouse Entertainment.

Die pretpark bied vir oud en jonk hope pret en vermaak. “Daar is 'n swembad vir kinders en hulle kan speletjies speel. Daar is ook 'n roomyswinkel vir die soettand en selfs 'n mini gholfbaan,” sê sy.

Maar vir Saterdag se kuier word net persone bo 18 toegelaat. “Ons het 'n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap en omdat daar drank te koop sal wees, word geen onder 18s by die dans toegelaat nie,” sê sy.

Kaartjies kos N$150 elk vir 'n enkelkaartjie of N$200 vir 'n paartjie. Dit sluit 'n heerlike biltongbord en 'n bottel wyn in.

Kaartjies is by Chicago Steakhouse by Streethouse Entertainment te koop.

“Hou maar julle kalenders dop, hierdie gaan beslis nie die enigste dans wees nie,” sê Samantha.

Met Valentynsdag om die draai, kan inwoners van Okahandja hulself nou al gereed maak vir 'n volgende kuier.