Windhoek tiener op pad na Indië

Yolanda Nel
Yolanda Nel



’n Internasionale platform is geskep vir jong meisies om hul wysheid en passie met die wêreld te deel, en een plaaslike tiener het dié besondere geleentheid nie deur haar vingers laat glip nie.

Die 17-jarige Anina Oosthuizen van Windhoek vertrek volgende week na Mumbai in Indië om aan die Magnificent Women International skoonheidskompetisie (MWI) deel te neem. “Ek verteenwoordig Namibië in die kategorie vir tieners en ding ook mee vir die Ambassadeurstitel,” sê Anina.

Sy is vreeslik opgewonde oor hierdie geleentheid wat haar te beurt geval het. “Ek kan nie wag om vir die wêreld meer oor ons land en sy kontraste en kulture te vertel nie,” sê sy opgewonde.

Anina, wat ook graag sing en een van die finaliste is in die Voice of Namibia-kompetisie, is gevra om gedurende die geleentheid vir Indië se eerste dame op te tree. “Hierdie is vir my ’n baie groot voorreg en eer. Ek is baie trots om my land op so ’n platform te kan verteenwoordig.”

Die meisies wat in hierdie soort kompetisies deelneem, vorm ’n hegte band. “Ons het geleentheid om met mekaar te deel wat ons in ons eie gemeenskappe doen. Ons kan ook by mekaar leer hoe om nog meer te doen en meer terug te ploeg in ons land,” sê sy.

Anina het vir die internet van die kompetisie te hore gekom en onmiddellik geweet sy die geleentheid nie misloop nie. “Hierdie is ’n wonderlike platform om meer ondervinding in die skoonheidskompetisie industrie op te doen, veral omdat dit op internasionale vlak is,” sê sy.

Sy het aanlyn ingeskryf en onderhoude gevoer en is vir die tiener-titel gekies.

“Hierdie gaan my beslis voorberei wanneer ek eendag vir Mej. Namibië inskryf,” sê sy.

Anina is baie dankbaar vir haar ma aan haar sy. “Sy is my grootste ondersteuner en ek is dankbaar vir wat sy vir my doen om my drome te verwesenlik,” sê sy.

Wanneer Anina terug is, wil sy graag die MWI in Namibië onder tieners bemark. “Die volgende kompetisie is volgende jaar in Mauritius en die inskrywings daarvoor is reeds oop.”

Anina was in 2017 ’n finalis in Mej Tiener Namibië. Sy ondergaan modelafrigting by Ace Models Windhoek.

Sy kan op haar Facebook-blad MWI Namibia Teen 2017/2018 Anina Oosthuizen gevolg word.