’n Fantastiese rockfees saam met Die Heuwels en Jo

Yandi Du Plessis
Die Rock 'N' Roll Namibia-musiekfees keer op Saterdag 27 Mei 2023 terug na die hoofstad met die Suid-Afrikaanse Afrikaanse elektro-popgroep Die Heuwels Fantasties sowel as die veelsydige Afrikaanse sanger, liedjieskrywer, motiveringspreker en mediapersoonlikheid Jo Black as hooftrekpleisters by die geleentheid, asook bekende Namibiese musikante wat mettertyd aangekondig sal word.
Die talentvolle kunstenaars van die buurland en uit ons eie geledere sal by die Doc Jubber Hokkievelde in Olympia op die verhoog te sien wees en beloof ’n ruk-en-rol-ervaring met meesleurende klanke wat families, vriende en kollegas sal byeenbring vir ’n unieke konsertervaring.
"Die ruimte sal 'n 'vry om te verken'-atmosfeer bied met baie prettige aktiwiteite, kroegspasie en verskeie plaaslike kosstalletjies," sê die organiseerder van die fees, Mindscape Events Namibia.
“Die ‘rock and roll’-era is een van die mees ikoniese tydperke in musiekgeskiedenis en die bands, liedjies en style wat daaruit gebore is, is wêreldwyd geliefd," brei die organiseerder uit.
Dubbele dosis
Die Rock 'N' Roll Namibia-musiekfees is vir die eerste keer in 2022 aangebied, met die immergewilde Suid-Afrikaanse ensemble Prime Circle wat Namibiërs met hul rockklanke oorrompel het. Vanjaar se fees sal na verwagting selfs groter en beter wees met 'n dubbele dosis eklektiese Afrikaanse musieksterre.
Die Heuwels Fantasties is bekend vir hulle eiesoortige klank en hul energieke lewendige optredes en het sedert hul ontstaan in 2008 'n groot en wye aanhangersbasis gekweek.
Die bekroonde groep, wat bestaan uit Hunter Kennedy, Pierre Greeff en Fred den Hartog, het by al die groot feeste in Suid-Afrika en regoor die wêreld in Nederland, België en die Verenigde Koninkryk (VK) gespeel en het die verhoog gedeel met groot internasionale name soos Kings of Leon, vir wie hulle al ’n konsert geopen het. Konsertgangers kan uitsien na uitvoerings van hul treffers soos 'Leja', 'Nora Vlok' en 'Mejuffrou Sonneblom'.
Benewens Die Heuwels is Jo Black die perfekte persoon om die verhoog by só ’n rockfees in te neem. Nadat hy in 2016 vir die eerste keer musiek deur Sony vrygestel het, het die kunstenaar se klank gegroei en verander van inspirerende liedjies vir sy baie aanhangers tot musiek “gebore uit 'n plek van gebrokenheid”, volgens hom, en wat werklik die veranderinge weerspieël wat die pandemie van 2020 en die daaropvolgende maande in die wêreld teweeggebring het – waaronder sy 2022-treffer 'Staan Vas'.
Saam sal dié kunstenaars ’n buitewêreldse musiekervaring lewer met elemente van akoestiese klanke, pop-punk, sinth-ballades en elektro-folk.
Die hekke van Rock 'N' Roll Namibia open op 27 Mei om 14:00 vir konsertgangers van alle ouderdomme. Kaartjies is nou aanlyn beskikbaar by www.eticket.my.na en sal ook by die hek te koop wees. As deel van ’n spesiale Valentynsdag-aanbieding sal dubbelkaartjies (twee kaartjies) vanaf 7 tot 15 Februarie teen N$600 te koop wees. Hou Republikein en Mindscape Events se sosialemedia-blaaie dop vir meer aankondigings in die komende maande.