Nuwe enkelsnit vir SA se Sunel

Suid-Afrikaanse sangeres Sunel het pas haar nuwe enkelsnit, “Moenie”, vrygestel.
Die sangeres se debuut-enkelsnit, “Fickle Heart”, is in 2017 uitgereik en was vir nege weke nommer 1 op SFM se Top 30 en vir 13 weke bo-aan die Nederlandse radiostasie, HOSA Radio.
Sunel het ook ’n treffende James Bond-tema musiekvideo vrygestel vir die treffer wat vervaardig is deur die SAMA- en Ghoema-bekroonde vervaardiger Ryan Kruger. Kort daarna het sy haar eerste Afrikaanse enkelsnit, “Hart se Wens”, vrygestel. Haar eerste album, Symptome, het sy kort daarna vrygestel, wat tien van haar eie liedjies bevat.
Gedurende die Covid-19 pandemie, het Sunel besluit om haar musiekstyl te verander en meer te waag. Sy was bevoorreg om “Moenie” saam met Francois van Coke te kon skryf. “Moenie” was gevolglik ook by Van Coke Studios in die Kaap opgeneem, met Richard Onraet as vervaardiger.
Sunel beskryf die liedjie as “vars alternatief, tog ook so bietjie pop-punk”.
“Die storie agter die liedjie is om te protesteer teen mense wat die samelewing wil probeer beheer. Dis OK om nie in te pas nie, solank jy staan vir waarin jy glo.”
Francois van Coke sê hy het dit geniet het om saam met Sunel aan die liedjie te skryf. “Sy het al baie interessante en moeilike draaie in haar loopbaan gemaak en sy is op die stadium nie bang om ’n kans te waag nie. ‘Moenie’ is ’n kreet vir haar toekoms. Sunel is reg vir aksie. Ek is baie opgewonde oor die tune en haar toekoms!”
Die musiekvideo vir “Moenie” is geskiet in ’n ou verlate kragstasie naby Mosselbaai. Die agtergrond is apokalipties van aard, met ’n “streetwise” gevoel.
Sien die video vir “Moenie” hier .