Porky’s vier drie dekades

Vir polonies en meer
Met dertig jaar se ondervinding, lê daar nog heelwat vir hierdie familie besigheid voor.
Porky’s Meat Market het al in 1990 sy deure geopen, en vandag lyk dinge veel anders as toe drie onderwysers – Basil Bean, Andre Swiegers en Sybrand Burger – destyds besluit het om hulle kragte saam te snoer om die slagtery te begin.
“Ons het aanvanklik gesukkel en ons moes baie skoolgeld betaal,” skerts die enigste oorblywende vennoot van die destydse drie, Sybrand Burger.
Maar hulle het deurgedruk en dit was ook nie lank nie, en het hulle ’n jaar later die destydse Rudy’s slaghuis in Klein Windhoek ook oorgeneem. “Dit het soos ’n leeftyd gevoel, maar uiteindelik het ons gelyk gebreek en meer geleenthede het begin kom,” vertel Sybrand. Hierdie het onder andere kontrakte met die weermag ingesluit, so ook die lewering van vleis aan restaurante.
Intussen het Andre uitgetree en teen die einde van 1996 het Basil besluit om voltyds te gaan boer. Boyky Meyer, ’n swaer, het in Oktober 1996 by die span aangesluit en was hy vir 14 jaar deel van die vennootskap.
In 2001, het hulle ’n erf in die Lafrenz nywerheidsgebied bekom – waar Porky’s vandag nog geleë is – en het hulle’n fabriek begin bou. In 2010 het Sybrand se broer Abré aangesluit, wat nou nog ’n vennoot is.
Vandag bestaan Porky’s uit 25 personeellede wat as ’n hegte span saamwerk.
Maar moenie dat die naam jou flous nie: Porky’s verkoop meer as net vark. “Eintlik verkoop ons iets van alles. Ons polonies is ons grootste en mees bekostigbare produk wat hoofsaaklik op die informele mark gerig is. Ons harte lê by hierdie mark en ons werk hard om bekostigbare produkte aan hulle te lewer.”
Dan is die droëwors ook ’n goeie verkoper.
“Maar ons lewer ook allerlei vleis aan private hospitale, kettingwinkels, ouetehuise en winkels.”
Dan eksperimenteer hulle ook gereeld met nuwe resepte en nuwe idees.
Sybrand se persoonlike gunstelling?
“Biltong. Want party vleise praat meer met jou!”
Waarheen mik hulle in die toekoms?
“Porky’s is uiteraard ’n familiebesigheid. Ons sou graag vir die volgende generasie ’n kans wou gee om die leisels oor te neem. So, my seun Riaan het ook verlede jaar by ons aangesluit,” sê Sybrand.
“Dertig jaar gelede het ek myself glad nie in hierdie bedryf gesien nie, maar dit het ons stoutste verwagtinge oortref. Niks is natuurlik altyd maanskyn en rose nie, maar jy moet geniet wat jy doen.”
Wat hy die meeste van die besigheid geniet, is dat hy kliënte se gesigte sien en hulle name leer ken. “Hier is jy beslis nie net ’n nommer nie,” sluit hy af.