CoW keur bouplanne van N$398,2m goed

Voltooiing van konstruksie-aktiwiteite ‘somber’
Phillepus Uusiku
Altesame 227 bouplanne ter waarde van N$398,2 miljoen is in Junie 2022 deur die Windhoekse munisipaliteit (CoW) goedgekeur, volgens IJG Securities.
Dit behels 153 aanbouings ter waarde van N$328,4 miljoen, 69 woonstelle en huise ter waarde van N$55 miljoen en vyf kommersiële en industriële eiendomme ter waarde van N$14,8 miljoen.
Die hoeveelheid bouplanne wat gedurende die maand onder oorsig goedgekeur is, verteenwoordig ’n beduidende 55,5% toename in vergelyking met 146 bouplanne wat in Mei vanjaar goedgekeur is.
Ten opsigte van die waarde, het bouplanne se goedkeuring met 237,2% toegeneem in vergelyking met N$118,1 miljoen wat in die voorafgaande maand aangeteken is.
Jaar-tot-datum is 1 139 bouplanne ter waarde van N$1,03 miljard goedgekeur – ’n 1,1%-toename op ’n jaargrondslag in die aantal planne wat goedgekeur is, en ’n 10%-jaar-tot-jaar-toename in waardeterme, het IJG gesê.
Aanbouings het die grootste gedeelte uitgemaak van die bouplanne wat goedgekeur is, beide in terme van die hoeveelheid en die waarde daarvan. Die waarde van die aanbouings wat goedgekeur is, is 384,5% hoër as verlede maand en 835,1% hoër as dieselfde maand verlede jaar, het IJG uitgewys.
Dit is egter nodig om daarop te wys dat die hoë waarde van aanbouings wat in Junie aangeteken is, uit ’n enkele eiendom bestaan, het IJG bygevoeg.
As daar na die voltooiing van eiendomme in die oorsigtydperk gekyk word, is van die 227 bouplanne wat goedgekeur is, net 73 ter waarde van N$43,8 miljoen voltooi.
Van die 73 bouplanne wat voltooi is, was 47 vir woonstelle en huise ter waarde van N$31,8 miljoen, 24 aanbouings ter waarde van N$7,1 miljoen, en net twee was vir kommersiële- en nywerheidsplanne ter waarde van N$4,9 miljoen.
Goedgekeurde bouplanne het met 4,4% jaar-tot-jaar in waarde toegeneem tot N$2,05 miljard op ’n twaalf maande kumulatiewe basis. Die verbetering in die kumulatiewe waarde van bouplanne wat in Junie waargeneem is, is egter hoofsaaklik te wyte aan ’n enkele aanbouing ter waarde van meer as N$280 miljoen soos vroeër genoem. Dit is dus onwaarskynlik dat die waarde van goedkeurings wat in Junie gesien is, in die afsienbare maande volgehou sal word, het IJG gesê .
’n Afname in die twaalf maande-kumulatiewe waarde van bouplangoedkeurings word in die komende maande verwag. Bouplanne wat voltooi is, neig steeds afwaarts in beide nominale en inflasie-aangepaste terme.
Voltooide bouplanne het met 29,2% jaar-tot-jaar in waarde gedaal tot N$984,9 miljoen op ’n twaalf maande kumulatiewe basis.
Gegewe dat bouplangoedkeurings ’n leidende aanwyser van ekonomiese aktiwiteit in die land is, impliseer die data wat verskaf word dat Namibië se ekonomie steeds moeilike tye verduur, het IJG gesê. – [email protected]