Mooi, witwarm en prakties - jy kan kies

2022 BMW 2-reeks koepee
Dirk Gallowitz
BMW se 2-reeks koepee is seker van die gewildste kompakte koepee motors in Suider-Afrika. Dis nie moeilik om te verstaan hoekom dit so gewild is nie, want veral die 2022 modelle laat die koppe draai.
Ek was bevoorreg om drie weergawes van die nuutste en tweede generasie 2-reeks koepee te bestuur, met die 220i as intreemodel en die M240i xDrive as die vlamgat topmodel. Die middel model 220 diesel weergawe is egter my gunsteling uit die drie.
Die pragtige sportiewe M240i xDrive was afgewerk in die perskleurige bekendstellings bakkleur. Oral waar ek gegaan het, is aandag getrek en komplimente ontvang.
Verder was die M240i se 3,0l reguit-sessilinder turbopetrol met 285kW en 500Nm ’n fees om mee te speel. Die xDrive wat krag na al vier die wiele stuur danksy ’n gladde en supervinnige 8-gang outomatiese ratkas, het gesorg vir ongelooflike goeie greep en paddinamika met ’n blitsige 0-100kpu lopie van 4,3 sekondes.
Dit is byna so vinnig soos die M2 wat egter heelwat meer geld kos.
Die intreemodel 220i is toegerus met ’n 2,0l turbopetrol enjin wat 135kW en 300Nm se piekkragte lewer vir lewendige verrigting. My gunsteling nadat ek al drie modelle elk vir ’n week onder hande gehad het, is egter die 220d. Die 2,0 liter turbodiesel se maksimum kragleweing van 140kW/400Nm het gesorg vir ’n genotvolle ervaring agter die stuur met uitsonderlike goeie brandstofverbruik van tussen 4,7 en 5,1l/100km.
Al drie modelle was afgewerk in BMW se M-Sport verrigtingpakket, met die topmodel wat uiteraard die meer aggressief-sportiewe bykomstighede bied soos groter wiele met breër laer profiel bande, groter luginlate en ’n sportiewer binneruim. Hierdie M240i XDrive is die slim persoon se M2 en kos meer as N$1 miljoen. Die bakontwerp is bykans futuristies en tog is die lang, geboogde enjinkap met ’n kragbult, kort kattebak, LED-ligte, skerp hoeke, sterk aksentlyne en breër bakoorhange oor die agterwiele, saamgevoeg in ’n uiters aantreklike pakket van aggressiewe sportiwiteit met ’n klassieke kantprofiel.
Die 220i koepee se prys begin by meer as N$770 000 terwyl die 220d se prys jou noord van N$820 000 uit die sak gaan jaag. Alle BMW modelle word verkoop met ’n 5jaar/100 000km onderhoudsplan wat ingesluit is in die prys.
Die tweede generasie BMW 2-reeks koepee word gebou op die onderstel van die nuwe 3-reeks en kry die voordeel van ’n langer baklengte en as-afstand. Die resultaat is dus meer kajuitruimte vir insittendes.
Vir my is die mees belangrike aspek egter dat die 220i en 220d vanuit die agterwiele trek, terwyl die topmodel M240i xDrive die eerste 2-reeks model is wat krag deur al vier wiele na die pad stuur.
By al die modelle, maar meer so by die topmodel, is die stuurgewig en terugvoer vir my bykans ideaal.
Die BMW 2-reeks koepee is nie net een van die mooiste hedendaagse BMW’s op die pad nie, maar ook my gunsteling modelreeks tans in hierdie segment.
Terwyl die witwarm M240i xDrive die jaagduiwel in my wakker maak, was dit die meer “praktiese” 220d koepee wat ek die meeste geniet het.