Soos om John Rambo langs jou te hê

Toyota spog met herdenkingsmodel
Dirk Gallowitz / Ultimate Mobility
Toyota se Land Cruiser vier sy 70ste bestaansjaar sedert die eerste BJ model, wat uiteindelik die Land Cruiser geword het, wat in 1951 die lig gesien het.
Sedertdien is meer as 10 miljoen van hierdie legendariese voertuie verkoop.
Om hierdie mylpaal te vier, het Toyota Motors SA vroeër vanjaar ’n spesiale model – bekend as die “70th Anniversary Edition” – plaaslik bekendgestel wat onderskei word van ander modelle deur die “70th Anniversary”-embleem op die deure onder die kantspieëls asook op die spesiale seil sitplekoortreksels aan te bring.
Net twee weergawes van hierdie bakkies is beskikbaar, naamlik ’n enkelkajuit- en ’n dubbelkajuitweergawe. Beide is toegerus met die 4,5L V8 turbodiesel enjin.
Ons het onlangs die voorreg gehad om die dubbelkajuit vir ’n week te geniet.
Min voertuie kan die Land Cruiser se reputasie ewenaar wanneer dit kom by betroubaarheid en legendariese taaiheid. Terwyl die voorkoms en modelle oor jare effe aangepas is, is die filosofie dat ontwerp funksie moet volg steeds duidelik sigbaar. Daar is egter mettertyd vooruitgang gemaak met enjins en dryfstelsels, met die 4,5 liter V8 turbodieselenjin wat uiters gewild is onder Land Cruiser kopers.
Die ontwerp is steeds hoekig en die kajuit relatief spartaans vergeleke met ander bakkies. Dit is ook die enigste bakkie waarvan ek bewus is wat steeds die lugdraad vir die radio elektries kan laat uitkom en weer wegsak met behulp van ’n skakellaar in die kajuit.
Verder kry hierdie model die volgende toerusting om dit vir spesiaal vir kopers te maak:
• Daar is prominente ‘TOYOTA’ letters in die sierrooster in plek van die gewone Toyota logo, soortgelyk aan wat die geval is by die Hilux GR-S en Land Cruiser GR-S modelle.
• Die voorkant is toegerus met ’n stewige staalbuffer waarin kolligte netjies ingebou is.
• Die buffer het ook ’n geïntegreerde bosbreker wat uit pyp vervaardig is om die voorkant en hoofligte te beskerm. Die staalbuffer maak ook voorsiening om ’n wenas daarin te monteer.
• Agter is ’n stewige buffer uit pyp vervaardiger wat ook as trap kan dien, met ’n verwyderbare sleepstang daaraan geheg. Ook die laaibak is met ’n 3mm dik harde rubber beskerming uitgevoer, sowel as laaibed beskerming.
• Die snorkel aan die bestuurderskant is ’n funksionele bykomstigheid en met die suigklanke van die turbo-aanjaer duidelik hoorbaar daardeur, klink dit soos pragtige musiek vir die petrolkoppe onder ons.
Prakties toegerus
Binnekant is die kajuit funksioneel geörienteer, maar prakties en sonder fieterjasies. Dit is egter veel meer gemaklik as die van Cruiser bakkie modelle van so tien jaar gelede, maar kan steeds nie as luuks beskryf word nie. Die grys stuurwiel sonder enige knoppies, is oudergewoonte aan die groterige kant en vertoon effe outyds – soos dit hoort.
Die Land Cruiser bakkie is soos KWV se Roodeberg – lank in die tand maar tydlose gehalte wat oor die jare plooie bygekry het en tog klassiek lekker verouder.
Om in aanraking met die moderne tye te bly is ’n kleurraakskerm, USB-koppelpunt, Apple CarPlay en Android Auto ingebring. Volksvreemd maar wel so nuttig en welkom.
Op die pad is die 2,2 ton gewig van die bakkie verbasend gemaklik om te bestuur. Ja, die draaisirkel is groot en parkering in kleinerige inkopiesentrumspasies is moeilik, maar daarvoor maak die vasvoetigheid op die plaas se ongelykte, halfonbegaanbare paaie weer tienvoudig op.
Die fris 4,5l turbodiesel V8 is gekoppel aan ’n 5-gang handratkas en loop op sy lekkerste in vyfde rat teen 110kpu met die toere wat rondom 2300rpm luier. Die voorste vering is [coil] springe met die agterste wat met bladvere toegerus is.
Paddinamika is gelykstaande aan ’n gesofistikeerde plaasimplement. Dit is hoe dit bedoel is en waarvoor die Land Cruiser 79 bakkies ontwerp is. As jy hou van gemaklik ry in ’n stil kajuit, kies liefs ’n dubbelkajuit Legend of Raider Hilux.
Die Land Cruiser 79 4,5l V8 Diesel bakkies is vir hardebaard Rambo’s bedoel.
Verstommend gemaklik
Met ’n 1,5 ton swaar sleepwa gelaai met ongeveer 2,2 ton voer agteraan gehak, was die Land Cruiser steeds verstommend gemaklik, selfs toe ek die dik sand van die Weskus se sanderige veldpaaie moes aandurf.
Met 151kW en 430Nm se piekkragte voel geen terrein onbegaanbaar en geen uitdaging in die veld onoorkomlik nie. Die Cruiser is ’n volwaardige 4x4 met ’n lae-strek ratkas wat met ’n aparte rathefboom 4-Hoog en 4-Laag geskakel kan word. Beide voor- en agteras is solied en bied ewenaarslotte wat met behulp van ’n skakelaarknop op die voorpaneel ingeskakel word.
Met ’n grondvryhoogte van 235mm en waterrydiepte van 700mm word veldry en klipklim soveel meer gemaklik.
Ek het moeilik van die Land Cruiser 79 4.5l V8 Dubbelkajuitbakkie afskeid geneem ná my week met hom. Dis soos om met John Rambo as jou beste vriend en mede-reisiger saam te ry. Jy soek eintlik uitdagings en moeilikheidjies oor jou pad net om die gemaklikheid en brute krag te ervaar waarmee dit uit die weg geruim word.