Alles wat mooi is

Klein begin lei tot hoër hoogtes

04 August 2019 | People

“As iemand iets goeds of mooi vir jou gedoen het, is die mooiste manier om dankie te sê om dit weer vir die volgende persoon te doen.” Monica Rossouw, Entrepreneur

Windhoek • Yolanda Nel



As die ekonomie begin knyp, dan doen jy wat jy kan om 'n ekstra geldjie te verdien.

Só het dit gebeur dat 'n plaaslike vrou nou 'n groeiende besigheid het.

Monica Rossouw en haar familie het drie jaar gelede hul eie besigheid op die platteland gehad, maar met die droogte en die moeilike ekonomiese toestande, moes hulle ander opsies begin oorweeg om 'n ekstra inkomste te verdien.

“Ek het 'n vrou van Pretoria ontmoet wat die mooiste fotorame van hout maak en baba's se geboorte-inligting bevat – van hoeveel die kleintjie weeg en hoe lank hy of sy is, tot die tyd wat hulle gebore is,” vertel Monica.

Sy het vir haar twee seuns elk 'n raam laat maak en het gedink dat ander Namibiërs dalk ook in hierdie soort produkte sou belang stel. Sy het be­stellings begin neem en die produkte van Suid-Afrika laat invoer “en so het Mooi-Mooi begin”.

Die naam Mooi-Mooi spruit uit hoe sy haar seuntjies aanmoedig as hulle iets goeds doen. “Dis waar my storie begin het. Ek verkoop tot vandag toe nog daardie selfde vrou se fotorame.”



Groei

'n Jaar en 'n half later het Mooi-Mooi uit sy nate begin bars.

Benewens die feit dat hulle intussen talle ander verskaffers se dienste ook ingewin het, het hulle twee masjiene aangeskaf om hul eie houtprodukte te maak.

“Ons het besef dat die wagtyd vir van die kliënte te lank was en daarom het ons besluit om ook met ons eie produkte vorendag te kom,” vertel sy.

En sy is nie spyt nie.

Die familie glo die engeltjies het goed na hulle omgesien.

“Twee jaar gelede het ons die besigheid op die platteland toegemaak en ek was dankbaar om vinnig weer in Windhoek werk te kry,” vertel sy.

Mooi-Mooi was toe nog net 'n ekstra inkomste wat sy nauurs bedryf het.

Dit was eers toe haar man verlede jaar sy werk verloor het, dat hulle besluit het hy kan haar met die houtwerk help.

“Nou is dit meer as 'n jaar en 'n half later en hy is nog steeds voltyds betrokke terwyl ek moet werk toe gaan,” sê sy met 'n glimlag.

Hulle spog ook nou met 'n klein werks­winkel by die Ferreira's-­kwekery in Windhoek.

Vir Monica is verskeidenheid baie belangrik en bied hulle dus baie produkte aan, wat alles van blikke, plekmatjies, koekie- en beskuithouers tot muurhorlosies, skinkborde, krale, oorbelle en ander bykomstighede insluit. Hul “juffrou”-sakke is ook baie gewild.

Daarmee saam is hulle 'n agent vir Ugears, wat houtmodelle verkoop wat jyself aanmekaar kan sit en ure se genot veral vir die ouer garde verskaf. “Ons verpersoonlik ook ons ­produkte en maak dae soos Valentynsdag, Moedersdag, Vadersdag en Kersfees ekstra spesiaal,” sê sy.

Volgens Monica probeer sy haar kliënte nuuskierig hou en is sy ­gereeld besig om met nuwe idees voren­dag te kom.

Sy put inspirasie uit 'n verskeidenheid internetbronne.

“Partykeer is dit so besig ons kan nie op nuwe produkte fokus nie. Maar sodra die stof gaan lê, dan begin ons rondspeel.”

Die lekkerste deel van haar werk is wanneer mense dit wat hulle skep, waardeer. “Of as iemand na ons toe kom met 'n idee van wat hulle wil hê, ons dit maak en dit hulle verwagtinge oortref,” sê sy opgewonde.

Monica word geïnspireer deur mense wat bo hul omstandighede uitstyg om iets te bereik. “Mense wat nie sit en wag vir die lewe om met hulle te gebeur nie, maar opstaan en iets doen,” vertel sy.

Sy is 'n voorstander van “paying it forward”.

“As iemand iets goeds of moois vir jou gedoen het, is die mooiste manier om dankie te sê om dit weer vir die volgende persoon te doen.”

Die Rossouws het nog groot drome in die pyplyn.

“As dit realiseer, kan ons weer ­bietjie asem skep en dinge kan hopelik bietjie rustiger gaan.”

Van dié planne sluit in om meer op die aanlyn winkel te fokus. En vir die produkte wat hulle nie self maak nie, soek hulle beslis spasie om ekstra voorraad aan te hou.

“Ons wil beslis groei, hopelik binne die volgende twee jaar. Ons het Mooi-Mooi gebou van niks tot iets; dit kan net beter gaan.”

Hou hulle Facebook-blad dop vir nuwe idees en kyk uit, hulle is ­binnekort by 'n mark naby jou.