Die SUV-stryd woed voort

27 May 2021 | Motors

Kaapstad • Dirk Gallowitz

KIA Motors het onlangs sy reeks van klein familievoertuie uitgebrei met die bekendstelling van die oulike Sonet.
Die kompakte SUV segment is uiters gewild wêreldwyd; gevolglik is hierdie segment hoogs kompeterend met elke vervaardiger wat stoei om die grootste moontlike deel van die koek op te eis.
Die Sonet wat in Indië gebou word, is die Seltos se kleiner boetie wat vroeg in 2020 plaaslik bekendgestel is en sedertdien fluks verkoop, en word gebou op dieselfde onderstel as die Hyundai Venue vanuit dieselfde stal. Gevolglik ding die Sonet op gelyke voet mee met die Venue en ook met ander kompakte SUVs soos die Ford EcoSport, Suzuki Vitara Brezza, Toyota Urban Cruiser en Honda WR-V.
Vergeleke met voorgemelde, is die Sonet na ons mening nou die voorloper in hierdie segment. Nissan stel eersdaags sy nuwe Magnite bekend wat, volgens ingeligte bronne, ’n sterk aanspraker op die kroon gaan wees en met Renault se opwindende Kiger wat ook later vanjaar plaaslik gaan debuteer, gaan die stryd selfs feller woed.
Voorkoms is altyd subjektief, maar die witjasse by KIA moet krediet kry vir die nuwe Sonet se ontwerp en stilering. Nie net vertoon die nuweling vars, modern en sportief nie, die aggressiewe voorkant laat die koppe draai. Ons hou ook van die LED liggies voor en agter, met die agterligte wat stylvol verbind word met ’n lighuls wat dwars oor die agterklap strek.
Die kajuitafwerking binne is ook ’n aangename verrassing - verbasend ruim met goeie kop, skouer- en beenruimte vir ons ouens langer as die outydse 6 voet. Terwyl alle vervaardigers in hierdie segment toenemend harde plastiek moet gebruik om kostes te besnoei, het KIA dit reg gekry om die harde materiale se voorkoms en gevoel te versag en dit op so ’n wyse in die kajuit aan te wend dat die somtotaal ’n uiters aangename gevoel van gehalte , moderniteit en funksionaliteit uitstraal.
Ons is van mening dat die Sonet se binneruimontwerp en uitleg die standaard stel in hierdie segment.

Segmentbeste
Wat wel segmentbeste is, is die laairuimte met 392 liter bagasiespasie.
Toerustingvlakke word bepaal deur twee spesifikasievlakke wat tans hier beskikbaar gestel is, naamlik LX as intreevlak met EX as die topmodel.
LX modelle word maklik onderskei deur hul 15” staalwiele en is standaard goed toegerus met onder andere ligte wat outomaties aanskakel, elektriesbeheerde vensters en kantspieëls. Daar is ook ’n 8” Infotainment skerm wat ondermeer koppeling bied met Apple Carplay/Android Auto, Bluetooth skakeling via ’n 6 luidspreker klankstelsel en vertoon ook die tru-kamera beelde in hoë definisie.
Die gemaklike sitplekke is oorgetrek met ’n mengsel van materiaal en leer.
Veiligheid word ondersteun met ABS remme, elektroniese stabiliteitsbeheer, heuwel wegtrekbeheer asook voorste lugsakke.
Die topmodel EX word toegerus met pragtige 16” allooivellings, silwerkleurige skermplate voor en agter, funksionele dakreëlings en agterste parkeerhulpgonsers. Die EX kry ook ’n leeroorgetrekte ratkierie en multifunksie stuurwiel binnekant sowel as kantflikkerligte en voorste misligte buite.

Aandrywing
Aandrywing is by beide modelle met ’n normaal geäspireerde 1.5 liter viersilinder petrolenjin wat 85kW en 144Nm se piekkragte kan lewer. Kopers kan kies tussen ’n 6 gang handratkas of CVT outomaties wat krag na die voorwiele stuur.
KIA sê die handratmodel haal die 0-100kpu lopie in 11,8 sekondes. Na twee dae se toetsbestuur het ons brandstofverbruik tussen 5 en 6l/100km gewys. Inderdaad indrukwekkend.
Volgens KIA Motors SA gaan ’n 3-silinder 1.0 liter turbo petrolenjin teen die einde van 2021 by die modelreeks gevoeg word asook ander modelweergawes. Tydens die bekendstelling kon ons ’n paar van die 1.0 liter turbo modelle van nader bekyk. Die motors, wat vir die Indiese mark gespesifiseer is, is egter nog nie vir plaaslike verkope gehomologeer nie. Die afwerking was meer sportief en het ook panoramiese sondakke ingesluit, spesifikasies waaroor KIA Motors SA nog moet besluit.
Tydens ons bekendstellingsrit vanuit Kaapstad langs die pragtige kuslyn via Gordonsbaai en Kleinmond met die Karwyderskraalpad deur die Hemel-en-Aarde-vallei tot in Hermanus, het die Sonet beïndruk met uitstekende ritgehalte en paddinamika selfs en veral op die grondpadgedeeltes.
Baie min enjin- en padgeraas het die kajuit binnegedring selfs teen snelwegspoed. Die heerlik soomlose CVT ratkas in die Seltos het ook beïndruk en kon selfs die rat “vashou” wanneer daar voor en deur draaie “afgerat” en dan weer versnel word.
Die 1,5 liter enjin verdien ook vermelding. Verrigting is gemaklik en moeiteloos as die toere in die toerestrek bly en die Seltos het nooit die indruk gewek dat daar krag kort wanneer ons verbygesteek het of bietjie gas gegee het nie. Ek is nie so oortuig dat ’n kragtiger turbo-enjin noodwendig beter gaan wees nie. Ná my rit met hierdie 1,5 liter enjin is dit my gunsteling.

Ter opsomming
Die nuwe Kia Sonet is ’n waardige toevoeging tot KIA se modelreeks en gaan baie harte wen. Nie net is dit na ons mening die mooiste in sy klas nie, KIA het die nuweling uiters goed geprys om seker die beste waarde-vir-geld pakket te bied in hierdie segment.
Kopers gaan ook baie gemoedsrus geniet met Kia se 5 jaar/onbeperkte kilometer waarborg en 4 jaar/60 000km diensplan.