Forumlede staan voor /Goagoses

Begraafplase word in Maart aan dorpsraad oorhandig

10 February 2019 | Local News

Yolanda Nel



Lede van die Rehoboth Begraafplaas Ontwikkelingsforum (RCDF) is Woensdag na die dorpsraad se kantoor ontbied ná ’n advertensie van ’n beplande massavergadering op die dorp versprei is.

Die byeenkoms is vir 24 Februarie geskeduleer, waar die werksaamhede en die RCDF se pad vorentoe bespreek sou word. “Inligting oor die amptelike oorhanding van die forum aan die minister van plaaslike owerhede en die Rehoboth dorpsraad sal ook tydens hierdie geleentheid bespreek word,” lui die advertensie.

Die advertensie het skaars verskyn, of ’n waarskuwing is deur Natalie /Goagoses uitgereik, wat verlede jaar aangestel is om namens die minister ’n regrukasksie op die dorp van stapel te stuur, waarin sy die forum maan om binne die raamwerk van die wet te bly.

“Volgens haar [/Goagoses] het ons oor die lyn getrap deur ’n gemeenskapsvergadering en oorhandigingsdatum te reël sonder om hulle [die dorpsraad] in die saak te ken,” het ’n bron gesê.

Tydens die vergadering tussen die RCDF en die dorpsraad oor die aangeleentheid, het /Goagoses gesê die Rehoboth dorpsraad (RTC) wil by die gemeenskapsvergadering teenwoordig wees en is daar voorgestel dat ’n gesamentlike komittee gestig word. “Sy het wel gesê hulle is dankbaar vir die werk wat ons by die begraafplase gedoen het en dat hulle hoop om die president ook by die geleentheid te kry,” het die bron gesê.

Lede van die RCDF is tydens die vergadering gewaarsku dat die RTC dit nie gaan duld dat hulle enigiets doen sonder die raad se medewete nie. “Die RTC wil nie die hoofrolspelers wees nie, maar hulle verwag ’n vennootskap en dat hulle in sake geken word,” aldus die bron.

Maar daarmee stem nie alle lede van die RCDF saam nie.

Geen sent nie

’n Tweede bron het aan Windhoek Express gesê die RCDF is ’n outonome gemeenskapsforum met hul eie beleid en dus nie onderhewig aan die dorpsraad nie. “Boonop het die hele gemeenskap hard aan hierdie projek gewerk en van die N$1 miljoen wat deur ons lede en ondersteuners ingesamel is, het die dorpsraad nie ’n sent bygedra nie.”

Die projek, om die begraafplaas met palisades te omhein sowel as talle skoonmaakaksies, is binne 18 maande voltooi. Die projek het begin vanweë vandalisme wat in hierdie areas plaasgevind het.

Die Volkster-gemeenskapsblad het onlangs berig dat ondersteuners van die RCDF bekommerd is oor wat gaan gebeur sou die begraafplase weer aan die dorpsraad oorhandig word, en dus het hulle eienaarskap daarvan gesoek.

“Inwoners is dit eens dat die verlede dit oor en oor bewys dat politieke rompslomp by die dorpsraadskantore menige projekte en voornemende projekte in die dorp in die afgrond gestuur het,” luidens die berig.

Ten spyte van talle oproepe aan die RTC, is geen reaksie oor hierdie kwessie bekom nie.