Gee terug tydens Lydenstyd

12 February 2020 | Local News

Yolanda Nel Woensdag is die eerste dag van die Lydenstyd wat die 40 dae voor Paasfees inhuldig, en Namibiërs word aangemoedig om in hierdie tyd terug te gee.
Ilanza Klein, die vrou agter die Facebook-blad Azaria – Restoring the Faith, het op sosiale media haar uitdaging gedeel om vir die volgende 40 dae terug te gee en sommer jou klerekas ook reg te ruk.
“Gooi elke dag een item uit jou klerekas wat jy nie meer gebruik nie en sit dit in ’n plastieksak. Aan die einde van die 40 dae, kan die items aan ’n organisasie van jou keuse geskenk word,” stel sy voor.
Volgens Ilanza is die behoefte in ons land baie groot. “As almal ’n bietjie doen, kan dit ’n groot verandering vir iemand anders tot gevolg hê,” sê sy. Klere hoef ook nie aan Azaria geskenk te word nie – dit kan aan enige iemand gaan.
Ilanza sê dat daar veral ’n behoefte aan kinderklere is. Een mamma het reeds vir haar geskryf dat sy sonder ’n nuwe bloesie kan gaan, maar dit breek haar hart wanneer haar kinders gespot word omdat hulle nie gewone klere na skool kan aantrek nie of nie tekkies het om te dra nie.
Indien iemand wil deel word van die uitdaging en meer inligting benodig, besoek die Azaria – Restoring the Faith se Facebook blad.