Konsternasie oor advertensiebord

Niemand wil verantwoordelikheid aanvaar

10 March 2019 | Local News

Windhoek • Yolanda Nel



'n Inwoner van Windhoek is woedend ná hy in 'n motorongeluk betrokke was wat hy toeskryf aan 'n advertensiebord wat motoriste se sig belemmer.

Volgens die slagoffer wat anoniem wil bly, is die spesifieke advertensiebord wat in Daimlerstraat in die suidelike nywerheidsgebied geleë is, onwettig – dit na aanleiding van 'n e-pos wat deur die munisipaliteit aan hom gerig wat lui: “Soos gister bespreek, is die (advertensie)-bord nie deur die stadsraad gemagtig nie”.

Ná die ongeluk het die stadsraad glo opdrag gegee dat een van die advertensies wat aan die bord hang, verwyder moet word, sodat motoriste aankomende verkeer beter op hierdie hoek kan sien.

“Vroeër jare was die advertensieborde wettig, maar die kontrak tussen die stadsraad en die advertensie maatskappy het lankal verval, maar steeds is hierdie borde nog nie verwyder nie,” sê die motoris.

Volgens hom behoort die advertensieborde aan Alliance Media, wat 'n 10-jaar tender vir die plasing daarvan in 2008 gewen het.

In 'n verklaring wat destyds deur die maatskappy uitgereik is ná hul tender-sukses, het die Windhoekse stadsraad die ekslusiewe advertensieregte vir die installering en onderhoud van advertensies teen straatpale aan Alliance Media toegeken.



Stryery

Tog is daar in 2014 vuur gespoeg toe Media Solutions Group Namibia CC vir Alliance Media hof toe gesleep het weens 'n N$90 miljoen tender vir advertensieborde wat volgens media berigte oor 'n vyf-jaar tydperk sou strek. Volgens hierdie berig dring Media Solutions daarop aan dat Alliance Media se advertensieborde verwyder word. Daar is egter nie duidelikheid of hierdie tender Alliance Media se tender vervang het nie.

Volgens 'n destydse mediaberig, het Alliance Media geweier om hul strukture te verwyder toe hulle die tender teen Media Solutions verloor het omdat hulle geglo het laasgenoemde het die tender onwettig bekom, hoewel Alliance Media in November 2013 reeds deur die munisipaliteit in kennis gestel is dat hulle advertensieborde verwyder moet word. Sover die motoris se kennis strek, ontvang die stadsraad nie meer 'n inkomste uit hierdie advertensieborde nie.

Ná Windhoek Express weke lank reeds vrae in hierdie verband aan die stadsraad rig, is daar teen druktyd nog steeds nie geen antwoorde deur die munisipaliteit se skakelbeampte ontvang nie. Daar is ook nie reageer op verdere vrae oor aan wie die advertensieborde behoort en wanneer die kontrak verval nie. Navrae aan Alliance Media het ook onbeantwoord gebly.