Kuier Saterdag saam met DHF

27 May 2020 | Art and Entertainment

Kort ná die uitreiking van Die Heuwels Fantasties (DHF) se nuwe album, 2021, kan jy nou jou kaartjies koop vir die aanlyn albumbekendstelling wat Saterdag (30 Mei) gehou word. Daarmee saam kry jy die album tot die koop toe!
“Ons is opgewonde om vir die eerste keer ons album met ’n full-on live show aanlyn te doen,” sê DHF se Pierre Greeff. “Ons stuur ons nuwe album na julle toe oor die golwe van die internet met die volle band en een honderd persent live direk na jou huis!”
Die nuwe album bestaan uit 15 nuwe snitte en is opgeneem by Sunset Recording Studios in Stellenbosch. DHF het met verskeie kunstenaars op die liedjies van die album saam gewerk onder andere Arno Carstens, Tarryn Lamb, Jack Parow, Francois van Coke, Johnny de Ridder, Ampie, TJ Terblanché en Pierre Pressure.
DHF se liedjies is nou al vir meer as ’n dekade deel van die daaglikse Afrikaanse musiek-kultuur.
Pierre sê dat hulle met elke album wat uitgereik word, hulle eie tydstip en progressie probeer vasvang. “2021 het dalk’n bietjie van ons debuut se energie, maar ook ’n titsel wilder as die wildtuin. Ek dink nie ons het noodwendig iets heeltemal nuut probeer nie, maar ons het wel probeer om wat voorheen al van ons gehoor is, te verfyn en te vereenvoudig. Die kunstenaars met wie ons saam gewerk het, het 100% gegee. Elke song het uitgekom presies soos ons dit wou hê en ons kan nie wag om dit met almal te deel nie.”
Die musiekvideos van drie van die nuwe liedjies is hier beskikbaar:
Ons moet Leef: https://youtu.be/_qPfqUE2QN0
Mej Sonneblom: https://www.youtube.com/watch?v=BCzXNW366ec
Jy Stel my Teleur: https://www.youtube.com/watch?v=5MYgxvAE7UA
Vir kaartjies vir die aanlyn-konsert, besoek www.howler.co.za/dieheuwels. Moet dit nie misloop nie!