Liewe Elizma

14 April 2019 | Columns

Yolanda Nel

Dis hartseer wat met jou familie gebeur het. En dis aaklig om te moet erken ek weet hoe jy voel, want ek was ook al daar.

Iemand na aan my is ook al vermoor. Iemand het ook besluit die lewe is te veel. Die media was toe ook daar. En dis die grootste seer en dit los soveel vrae terwyl die verlange net meer raak. Die een is nie beter as die ander nie. Of die media daar is of nie, speel nie ’n rol nie, want daardie persoon is steeds net weg. Ek kan nie meer gaan inloer vir ’n geselsie en ’n vinnige koffie nie. Boodskappe gaan vir altyd onbeantwoord bly.

Maar dit hoef ek nie vir jou te vertel nie, want nou weet jy ook. En dis die swaarste ding in die lewe, om te moet weet hoe so iets voel.

Ek het jou op sosiale media sien smeek dat mense moet help om jou niggie te soek. As ek in jou skoene was, sou ek presies dieselfde doen. En soos Namibiërs maar is, staan ons saam in nood, al ken ons nie daardie persoon nie. Ons druk die share knoppie, want dalk ken ek iemand wat haar ken. En ek doen. Jou dankbaarheid teenoor diegene wat gehelp het, was duidelik.

Toe vind ons haar. Nes jy gevra het. Maar julle wou haar veilig by haar huis hê. Ons ook. Ek weet ons joernaliste word uitgekryt as onsensitief en sensasie-soekers. Ek weet jy dink ons smag na hierdie stories. Ek wens jy sal my glo as ek vir jou sê ons huil saam met julle.

Daardie dag druk ons ons sussies, vriendinne en kinders stywer vas. Want ons is ook mammas. Van ons is al oumas. As jy ’n vlieg teen die muur was sou jy weet dat ons menigte kere ons stemme dik maak om nie ’n storie te publiseer nie, want dit maak seer. Om daardie woorde te moet lees maak seerder. Om dit te skryf, breek ons harte. Ons het nie nodig om te haar te ken om haar ook te wil veilig hê nie.

Die media wil nie skryf oor nog ’n vrou wat aangeval is nie, of wat deur haar kêrel vermoor is nie. Want soms is dit nie iemand anders se kind of ’n vreemdeling se vriendin nie. Soms is dit ons mense. Dan staan ons terug en gee ons grootste seer vir ’n kollega, een wat saam met ons huil.

Ons wil nie skryf oor die renosters wat gestroop word nie. Ons, nes al ons ander inwoners, wil nie sien hoe ons hout deur Chinese uitgevoer word nie. Ons wil nie skryf oor hoe miljarde dollar jaar na jaar in die verkeerde hande beland terwyl duisende kinders honger en koud gaan slaap nie. Ons raak opgewonde oor stories waar 6-jarige dogtertjies N$15 000 in 5- en 10-sente insamel en ons wil eerder skryf oor jou show in die woestynland, want dan kan ons ook ’n bietjie beter voel.

Maar dis ons plig om die waarheid te soek. Al lei ons bronne ons soms op ’n ander pad en al maak dit seer. Want ons lewe nog nie in die hemel nie. Hier is dinge nie alles oraait nie. Ek wonder of dinge ooit hier op aarde sal wees. Ons skryf daaroor om mense in te lig. Selfmoord en moord, veral teenoor vroue, staan hoog op die land se agenda, want ons moet aandag gee en saamstaan om ’n lewe te red. Om ’n verskil te maak.

Ek en jy het beide ’n platform om ’n verskil te maak in iemand se lewe. Jy met vermaak en ek met die waarheid. Jy is ’n 100 keer meer gewild as ek, maar saam staan ons sterker.