My (amper) ideale klein sportsnuts

19 May 2021 | Motors

Kaapstad • Dirk Gallowitz

Persoonlike smaak is presies dít: persoonlik. Waarvan jy hou gaan heel waarskynlik verskil van my gunstelinge, en dankie tog, want dis hoekom daar die motorbedryf soveel modelvariante wêreldwyd verkoop word.
Volvo se kleinste sportsnuts is een van my gunstelinge. “Klein” is ook al ’n relatiewe begrip aangesien die XC40 nou ook darem nie die Ignis of Picanto klein is nie.
Die dag toe ek die XC40 in ontvangs neem, was dit langs sy groter XC60 geparkeer en tot my verbasing, het ek opgemerk die twee modelle staan ewe hoog van die grond af en daar is slegs ’n kleinerige verskil in breedte.
Die XC40 is al so twee jaar met ons en ding op gelyke voet mee in die luukse afdeling van hierdie segment met onder meer die BMW X1, Audi X3 en Mercedes se GLA en GLB.
Die ideale voorkoms vir my, is ’n hoekige ontwerp en sterk lyne wat die oog tref. Verder spreek die forse vooraansig, mooi lighulsontwerpe en groot, pragtige sierwiele van die R-Design afwerkingsvlak van ons blougrys (Thunder Grey Metallic) toetsmodel, van doelgerigte sportiewiteit. Met die uitsondering van Peugeot se 2021 3008, seker die mooiste kompakte sportsnuts tans beskikbaar.

Goed deurdink
Moderne Volvo motors stel die standaard vir goed deurdinkde, moderne kajuite waar skoon lyne, sinvolle uitleg en uitstekende afwerking saamsmelt in topgehalte binneruime met ’n ambiaans van rustige weelde. Die topmodel XC40 D4 R-Design is geen uitsondering nie. Daar is dubbelle stikwerk, sagte leer, ’n moderne raakskerm wat vertikaal middel in die voorpaneel gemonteer is, met selfs die rathefboon en ritmodus skakelaar wat van styl spreek.
Met omvattende standaard kommunikasie-, klank-, veiligheid- en bestuurdershulpstelsels wat satellietnavigasie en parkeerkameras insluit, voldoen die XC40 aan meeste van die vereistes in hierdie hoogs mededingende segment.
Daar is onder meer sleutellose aanskakel en toegang, ’n koordlose laaiblad vir slimfone, en ’n selfstopfunksie wat met behulp van ’n radarkamera in die neus vanself rem en stop wanneer ’n voetganger of dier voor die voertuig verby wil beweeg. Met “Lane Keeping Aid” en “Driver Alert Control” hou die stelsel die bestuurder in die baan en wakker!
Ideale sitposisie agter die verstelbare leeroorgetrekte stuurwiel verseker uitstekende uitsig rondom die kajuit. Daar is genoeg kop-, skouer- en beenruimte vir vyf volwassenes – dalk is die tweede ry meer geskik vir drie tieners – maar dan sal ’n sleepwaentjie of dakrak die naweekbagasie moet help karwy.
Op die pad is die kajuit stil, uitstekend geïsoleer teen pad- enjin- en windgeraas.
Die ideale kajuit vir my.

Beproefde enjin
Ons toetsvoertuig was toegerus met Volvo se beproefde 2.0 liter viersilinder turbodieselenjin wat in D4 spesifikasie maksimum 140kW en 400Nm wringkrag lewer wat krag met behulp van ’n 8-spoed outomaties ratkas na al vier wiele stuur. Volvo se amptelike verbruik word aangegee as 5,0 l/100km, maar ons beste syfer wat ooppad, grondpad en selfs dik sand ingesluit het, kon slegs 5,9l/100km haal. Steeds uitstekende verbruik vir hierdie kompakte sportsnuts.
Die dieselenjin is wakker met lewendige verrigting wanneer die regtervoet swaar raak.
My ideale enjin in hierdie segment.
Op die pad het die XC40 D4 R-Design AWD beïndruk, met goeie hantering op teer sowel as grondpad. Veral op laasgenoemde het die Volvo se greep en stabiliteit my matelose bestuursgenot verskaf. Op die plaas het ek dit selfs gewaag om die Sweed te beproef op die sandpaadjies waar die dik warm Sandveldsand menige viertrekbakkies gereeld troef. Sonder om die banddruk (2 bar) te verlaag en met net die traksiebeheer afgeskakel, het die Volvo tot my verbasing moeiteloos oor die dik sand gesweef sonder enige wieltol.
My ideale kompakte avontuur sportsnuts.
Wat egter nie ideaal is nie, is die Volvo XC40 D4 R-Design AWD se prys.
Soos getoets, kos die Volvo meer as N$880 000 wat BTW en CO₂ belasting insluit. Terwyl die prys mededingend is vir wat die XC40 bied, is dit egter helaas onbekostigbaar vir die jong, klein gesin vir wie die kompakte sportsnuts ideaal sou wees.
Moet ek egter kies tussen die X1, Q3 of GLB/GLC, sal die Volvo XC40 D4 R-Design AWD steeds my eerste keuse wees.
Ingesluit by die prys kom ’n 5 jaar/100 000km waarborg en ’n 5 jaar/100 000km volle diensplan.