Namibië se paspoortranglys klim met sewe plekke

14 January 2022 | Tourism

Windhoek • [email protected]

Die Namibiese paspoort staan nou op 66 in die jongste Henley-paspoortindeks; sewe plekke beter as verlede jaar se 73ste posisie.
Die Henley-paspoortindeks is ’n belangrike ranglys van paspoortkrag.
Namibiese paspoorte het egter nie werklik meer bruikbaar geword nie, aangesien die aantal visumvrye lande waartoe Namibië toegang het, nog op 78 bly staan.
Die indeks, wat 111 lande gerangskik het, gee ’n uiteensetting van die aantal lande wat reisigers kan besoek sonder om ’n visum voor opstyg te bekom. Dit is gebaseer op inligting wat deur die jaar deur die Internasionale Lugvervoerowerheid (IATA) ingesamel is.
Die indeks neem nie tydelike beperkings in ag nie, en stel huidige reistoegang opsy.
Die Namibiese paspoort bly die vyfde magtigste in Afrika. Die ander top-gekeurde Afrika-lande is Seychelle (28), Mauritius (31), Suid-Afrika (51) en Botswana (60).
Bestendigheid op die indeks is egter geen geringe prestasie nie. Henley het vandeesweek die wydste aangetekende globale mobiliteitsgaping berig sedert die indeks 17 jaar gelede ontstaan het.
Volgens die indeks het bewegingsvryheid die afgelope 15 jaar geweldig toegeneem. In 2006 kon die gemiddelde wêreldreisiger verwag om sonder vooraf goedkeuring deur sy regering by 57 lande ingelaat te word, maar vandag is dié getal 107.
Sedert 2006 het Namibië het sy visumvryetoegang met 37 bestemmings verhoog. Oor dieselfde tydperk het Suid-Afrika toegang tot 39 bestemmings bekom, Botswana tot 38 en Mosambiek het sy getal met 40 verhoog.
Die kragtigste paspoorte ter wêreld is dit van Japan en Singapoer, met toegang tot 192 visumvrye bestemmings elk. Afghanistan, Irak en Sirië beklee die onderste drie plekke op die lys, en kan net onderskeidelik 26, 28 en 29 lande met gemak besoek.
Die jongste verslag het opgemerk dat die verskyning laat verlede jaar van die Omicron-variant van Covid-19 ’n lig geskyn het op ’n groeiende kloof in internasionale mobiliteit tussen ryker en arm lande, wat dui op die streng beperkings wat teen hoofsaaklik Afrika-lande ingestel is.