Natuurbewaring vs klimaatsverandering

09 December 2020 | Environment

In ’n nuwe navorsingsartikel klap ekoloë en klimaatsveranderingspesialiste hard na huidige natuurbewaringspraktyke wat volgens hulle nie buigsaam en dinamies genoeg is om die impakte van klimaatsverandering te weerstaan nie.
In die praktyk sal ’n meer buigsame benadering die negatiewe impak van klimaatsverandering kan verminder deur byvoorbeeld toe te laat dat spesies natuurlik migreer, of selfs geskuif word na meer geskikte habitatte. ’n Ander benadering sou wees om spesies te identifiseer wat as gevolg van klimaatsverandering ’n groter risiko vir uitsterwing in die gesig staar, en hulle genetiese materiaal dan proaktief te bewaar met die hoop dat hulle weer eendag onder gunstiger toestande hervestig kan word.
Die navorsingsartiekel getiteld: “Post-2020 biodiversity targets need to embrace climate change” is hierdie week in die hoë-impak vaktydskrif PNAS gepubliseer. Die artikel verwys na gedokumenteerde navorsing wat daarop dui dat spesies se hougebiede alreeds poolwaarts geskuif het na koeler areas, met ’n geskatte gemiddelde skuif van 17km vir taksonomiese groeperings op land, en 72km vir hul mariene eweknieë – en dit alles binne net ’n dekade.
Die vraag of die mens moet ingryp ten einde spesies te beskerm of nie, is ’n hewige debat in bewaringskringe.
“Die interessantheid hiervan is dat die dieremense baie meer geneë is om dinge rond te skuif as die plantmense, wat as’t ware redelik konserwatief is,” meen Prof Bob Scholes, redakteur van die artikel en ’n ekoloog van die Global Change Institute aan die Universiteit van die Witwatersrand.
“Hierdie artikel was op ’n manier daarop gemik om die bewaringskundiges te skok uit hulle staat van ‘doen wat hulle nog altyd gedoen het’,” sê hy.

‘Meer buigsaamheid nodig’
Die outeurs voer aan dat natuurbewaringstrategieë meer buigsaam en dinamies moet word met betrekking tot hoe dit die impak van klimaatsverandering op natuurlike habitatte, genetiese plantbronne, die samestelling van spesies, en die funksionering van ekosisteme die hoof bied. Indien dit nie gebeur nie, sal enige oënskynlike korttermyn vordering wat gemaak is met die omkeer van biodiversiteitsverlies, in die komende dekades verlore raak as gevolg van klimaatsverandering.
Tans gee geen van die 2020 Aichi Biodiversiteitsdoelwitte van die Konvensie oor Diversiteit van Biodiversiteit aandag aan die dringendheid van die tempering van en aanpassing by klimaatsverandering as ’n kritiese komponent van biodiversiteitsbewaring nie.
Byvoorbeeld, hulle verwys na Aichi Doelwit 12, wat poog om die uitsterwing van alle bekende bedreigde spesies te voorkom en hulle bewaringstatus te verbeter. ’n Statiese of tradisionele benadering tot bewaring blyk dus onrealisties te wees gegewe die bewys dat klimaatsverandering alreeds beduidende veranderinge in verspreidingsgebiede tot gevolg gehad het.
“Dit word voorspel dat selfs baie lae vlakke van toekomstige klimaatsverandering die grootte van verspreidingsgebied van ’n beduidende aantal spesies kan verminder, wat baie spesies se risiko op uitsterwing sal verhoog,” skryf hulle.
Verskeie prominente maatreëls wat ingestel word om die tempo van stygende CO²-vlakke te vertraag, soos die aanplanting van meer bome, kan in direkte konflik met die doelwitte van biodiversiteitsbewaring in Afrika staan, beklemtoon Prof Guy Midgley, ’n kenner op die gebied van globale verandering en biodiversiteit in die Departement Plant- en Dierkunde by die Universiteit Stellenbosch, en een van die mede-outeurs.

Onbekendes
“Grootskaalse bebossing van ryk graslandekosisteme in Afrika, sal nie slegs die unieke skadu-afkerende biodiversiteit bedreig nie, maar ook menslike lewensbestaansopsies beperk en noodsaaklike ekosisteemdienste verminder, soos die lewering van varswater vanuit hierdie ekosisteme,” voer hy aan.
Verskeie onbekendes teister steeds ons vermoë om risiko’s te skat, hoofsaaklik omdat ons steeds nie weet wat die impak van klimaatsverandering kan wees op die lewering van veelvuldige ekosisteemdienste soos skoon lug en water en voedselsekuriteit, indien bestuiwingsnetwerke die gevaar loop om versteur te word nie.
Die outeurs voer aan dat daar komplekse interaksies tussen ekosisteemprosesse, atmosfeersamestelling en klimaat is wat ons tans nog nie verstaan nie. In kombinasie met volgehoue menslike bevolkingsgroei en die daarmee gepaardgaande toename in verbruik per kapita, wat dikwels tot die oorontginning en besoedeling van ekosisteme lei, word dit duidelik dat daar rede tot kommer is.
Biodiversiteit ondersteun direk die bereiking van ten minste 13 van die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (VOD), terwyl klimaatsverandering die potensiaal het om al 16 van die VODs te ondermyn. Dit is dus duidelik dat ons beide biodiversiteit en klimaatsverandering in ag moet neem.

Veerkragtig
“Wanneer die natuur genoeg tyd gegun word, is dit duidelik veerkragtig teen skokke soos klimaatsverandering. Die aarde se biologiese biodiversiteit het ook verskuif en verander in reaksie op globale krisisse in die verre geologiese verlede, soos byvoorbeeld toe dit deur meteoriete getref is. Dit is dus noodsaaklik dat ons met die natuurkragte werk wat veerkragtigheid verskaf, eerder as om bewaringsdenke te beperk tot die bereiking van vaste ideale wat gegrond is op ons beperkte historiese perspektiewe van natuurlike ekosisteme,” sê Prof Midgley.