Reho bejaardes met Kersete bederf

17 December 2018 | Society

Boet Matthews

Dit was Woensdag ’n miernes van mense toe die Heilige Hart van Jesus-kerk sy jaarlikse Kersete by die St. Joseph-skoolsaal op Rehoboth gehou het, danksy ’n borgskap deur Shoprite Namibië en City Stationers cc.

Voor die ete het vr. Gavin Atkins ’n diens gelei. Tydens sy preek het hy gesê ons moet ons bejaarders waardeer. “Ons moet hulle ondersteun en dankie sê aan ons Hemelse Vader dat sommige van hulle nog lewe en, belangrikste van alles, ons moet vir hulle bid en vra dat God Sy genesende hande oor hulle uitsteek.”

Voorts het Atkins gesê daar is heelwat senior burgers wat afgeskeep word. “Ons gaan vra nooit hoe dit met hulle gaan nie. Besoek hulle gereeld en vra wat hulle nodig het. Daar is sekere senior burgers wat nie meer kan loop nie en die res van hul lewe in ’n bed moet lê.

“Onthou, as jy jou ouers waardeer, sal die Here jou seën. Julle weet mos wat die vierde gebod sê: Eer jou vader en moeder sodat jou dae verleng mag word,” het Atkins gesê.

Op sy beurt het Johan Wohler van die pastorale raad sy dank uitgespreek teenoor gemeentelede, die ondersteunende maatskappye en indivudue wat insette gelewer het.

“Ek glo die bydra van Shoprite Namibië en City Stationers cc het ons senior burgers ’n hupstoot gegee. Dit was ’n pragtige gebaar om die dag vir sowat 100 senior burgers moontlik te maak,” het hy gesê.

Sowat 150 kos-en-geskenkpakkies is ook tydens die geleentheid aan die oues van dae oorhandig.

“Ons is baie tevrede met die opkoms en sal in 2019, as die Here wil, koppe bymekaar sit en hande vat om weer so ’n geleentheid aan te bied,” het Wohler afgesluit.