Sirkus kom eers volgende jaar

13 May 2019 | Politics

Windhoek • Yolanda Nel
Weens die uitbreking van bek-en-klouseer en ’n logistieke kwessie om te verseker dat die diere ten alle tye veilig is, het die organiseerders van die McLaren-sirkus se Namibiese besoek, besluit om dit vir ’n jaar uit te stel.
“Ons is ook diereliefhebbers en ons wil verseker dat die diere gesond bly en dat daar vir hulle geen onnodige risiko is nie. Daarom het ons besluit om die besoek eerder uit te stel,” vertel organiseerder Jan Marais van Yin Yang Investment wat die sirkustoer reël.
Op die vraag of hulle bekommerd is dat aktiviste wat teen die besoek gekant is saam met die regering gaan werk om die sirkus se besoek te verhoed, sê Jan hulle is nie bekommerd nie. “Die regering staan ons al sedert dag een af by en het ons ongelooflik gehelp,” het hy gesê.
Nog voor die sirkus uitgestel is, het Jan gesê die nodige reëlings vorder na wense en was almal vol hoop hulle sou betyds die nodigepermitte bekom vir die Namibiese toer wat vir Junie geskeduleer was.
Volgens hom het die Namibiese regering uit hul pad gegaan om bystand te lewer. “Ons is veral dankbaar vir die ondersteuning wat hulle bied rakende regulasies oor die diere en die nakoming van die korrekte riglyne rakende die diere en kunstenaars wat ’n inkomste uit die vertonings maak,” sê hy.

Simbiose
Voorts het Jan gesê dat positiewe en negatiewe sienswyse deel van die bedryf is en dat hulle van die begin af daarvan bewus wasddat daar wel mense is wat dit nie ondersteun nie. Tog is hy van mening dat ’n groot deel van die ekonomiese lewensaar aan diere gekoppel is, hetsy in die toerisme, landbou en ook die simbiotiese balans tussen die natuur en die mens.
“Die klein groepie mense wat tot op hede hul opinie teen die program gelig het, is werklik uit gevoel met die proses en beheermeganismes wat in die bedryf bestaan,” sê hy.
’n Regstreekse uitsending is onlangs op YouTube deur Petro Diamant, ’n bewusmakingskunstenaar vir bedreigde spesies, uitgesaai. Tydens die uitsending gesels sy met verskeie diere instansies oor hoekom die regering die sirkus moet verban. Volgens haar vind sy geen fout met sirkusse nie, net sirkusse wat van diere gebruik maak.
“Indien jy ’n diere-sirkus in een land verban, help jy ander diere in ander lande, want die beweging sal momentum kry en meer en meer lande sal die tendens verbied,” sê sy. Die volledige uitsending kan op haar YouTube kanaal, Petro Diamant, gekyk word.
Talle dierebeskermingsverenigings in die land het aangedui dat hulle die sirkus nie goedkeur nie.
Op die Namibiese McLaren-toer se Facebook-blad is daar aangedui dat kaartjieverkope nog nie begin het nie.