Stadsraad se uitvoerende hoof: Wie het uitgeval

12 October 2021 | Government

Windhoek • [email protected]

Minstens 61 mense uit verskeie sektore, hoofsaaklik semistaatsinstellings se bestuurders en senior staatsamptenare, het aansoek gedoen vir die pos van die hoofstad se uitvoerende hoof.
Dit sluit vier aansoekers in met ’n hoogste kwalifikasie van graad 12, ondanks die feit dat die pos onder meer ’n meestersgraad en ’n minimum van 10 jaar se korporatiewe ervaring vereis.
Die lys aansoekers, wat deur hierdie publikasie gesien is, verskyn te midde van bewerings dat gekwalifiseerde mense uit sekere demografieë doelbewus nie op die kortlys geplaas is nie.
Een van die voorste kritici van die proses, Sade Gawanas – ’n raadslid van die Landless People's Movement (LPM) – het gesê “integriteit ontbreek” in die proses. In een van haar uitlatings op sosiale media wat die proses kritiseer, het sy gesê: “Vir die integriteit van die proses en diegene wat aansoek gedoen het vir die pos van uitvoerende hoof, ek sal nie die lys bekend maak nie, maar ek is daarvan oortuig dat diegene wat vir die pos uitgesoek is, deur helvuur en heilige water sal moet loop”.
Sy het ook op ’n stadium beweer dat daar beslag gelê is op haar harde kopie van die lys aansoekers deur die burgemeester, Job Amupanda. “[Ek] het die lys van aansoekers, soos ons vroeër gevra het, per e-pos van menslike hulpbronne ontvang. Toe ek besig was om die lys te druk, het die drukker vasgehaak. Ek het ’n intern gevra om dit reg te maak en die volgende oggend vir my te bring, want dit was reeds 17:00. Die volgende oggend is ek meegedeel dat die lys deur die burgemeester gekonfiskeer is, want ek moes die lys blykbaar nie hê nie,” het sy op 30 September op haar Facebook-blad geskryf.

Bekendes
Gawanas bevraagteken ook die geloofwaardigheid van die aantal aansoekers. “Ek herhaal, waar is almal wat aansoek gedoen het? Ek wil weet of 68 die totaal van alle aansoekers in die hele Namibië was?”
Die lys in die besit van hierdie publikasie dui aan dat slegs 61 mense aansoek gedoen het. Dit sluit in die voormalige visekanselier van die Universiteit van Namibië (Unam) vir finansies en administrasie Boniface Mutumba; die voormalige uitvoerende hoof van die stadsraad in Oshakati Werner Iita; en die voormalige uitvoerende hoof van die stad Windhoek, Robert Kahimise, wat tans Cenored se uitvoerende hoof is.
Staatsamptenare soos Tileinge Nghaamwa (ministerie van handel), Joyce Mukubi (adjunk uitvoerende direkteur vir werke en vervoer), Gerard Vries (onderwys), Petrus Muteyauli (omgewing), Medusalem Nandjembo (stedelike en landelike ontwikkeling), Lisho Mundia (hoër onderwys), Charles Sanzila (finansies) en Enid Hanze (onderwys) was ook op die lys.
Bestuurders wat by semistaatsinstellings dien, sluit in Namene Kalili (Padfondsadministrasie), Alfeus Shikongo (Unam), Jackpelins Muundjua (NUST), Israel Iilende (GIPF) en Kavezemburuka Veii-Mujoro (New Era Publications Corporation). Conrad Lutombi, hoof van die Paaieowerheid en sy ondergeskikte Kazarus Kunugab, wat as senior ingenieursbestuurder by die agentskap werk, se name was ook op die lys.
Ander belangstelledes is die uitvoerende direkteur van die Namibian Institute of Public Administration and Management (NIPAM) Maria Nangolo, dr Eino Mvula van NamWater, Alfeus Siyamba van die Agro-Marketing and Trade Agency (AMTA) asook Fillemon Immanuel en Sylvanus Nambala van die NSFAF.
Vanuit plaaslike owerhede was aansoekers Moses Matyayi (Otjiwarongo-munisipaliteit), Kisco Sinvula (Grootfontein-munisipaliteit) en Junias Jakob (Oniipa-stadsraad). Al drie is uitvoerende hoofde by hul onderskeie stadsrade.
Die hoopvolles in die privaatsektor was onder meer die hoof van Makalani-fondsbestuur Salomo Hei; Free Press of Namibia se besturende direkteur en redakteur Tangeni Amupadhi; Standard Bank se Sigrid Tjijorokisa; asook as Charmill Zamuee (konsultant by Global Advisory Alliance), Garden Hengua (Carapau Fishing) en Hertitha Muyoba (Namibia Dry Dock and Ship Repairs).
Seth Boampong Panti van Ghana was die enigste buitelander wat aansoek gedoen het vir die pos.
Uit die 61 aansoekers, was net Matyayi, Lutombi, Mvula, Mukubi en Zamuee op die kortlys geplaas en mee onderhoude gevoer.