Vinnige hap, alles behalwe

23 October 2019 | Art and Entertainment

Yolanda Nel Ons was onlangs by Metro en besluit om sommer ’n vinnige broodjie by Food Lover’s Market te koop wat ons kan eet op pad na die inkoopsentrum elders in die buurt.
Uit die broodjies binne die winkel vang niks my oog nie, maar by die restaurant lyk dit darem asof daar iets in my smaak sal val.
Ter agtergrond moet ek sê, ek lief ’n kaas-en-tamatie toast. Vars gemaak en wat onmiddellik geëet moet word. Maar ’n tamatie op ’n broodjie wat dalk ’n paar ure vroeër gemaak is? Nee, hou liewer verby, want dan is my broodjie pap van tamatiesap en ek gril my morsdood.
Ongelukkig het elke broodjie-opsie hier, tamatie op.
Toe vang ’n salami en pepadew brötchen ons beide se oog en ons vat dadelik die laaste twee.
Groot frustrasie volg by die betaalpunt, omdat die kassiere nie kleingeld het nie en is dit eers ’n gespook om iemand te kry wat kan help. Uit moedeloosheid het ons maar sommer in die winkel gaan betaal.
Vir iets wat ’n vinnige in en uit moes wees, het hierdie uitstappie al amper ’n halfuur geneem. En dit was nie eers maandeinde nie.
Die betalery daar gelaat; Ek sien uit na my pepadew bröchen, want dis is nie iets wat sommer in my huis te vinde is nie. Maar helaas, met die eerste hap besef ons ons is gefnuik. Dis tamatie! Maak die brötchen oop en ons sien daar is nou nie eens ’n stukkie peppadew om te troos nie. Net drie stukkies tamatie wat seker gehoop het om eendag ’n pepadew te wees.
Ek kan wel erken my broodjie was nie pap nie, maar ek gaan twee keer dink of ek weer hier wil stop vir ’n broodjie ‘on the go’.