Waar Kalahari en Jazz ontmoet

20 November 2019 | Art and Entertainment

Yolanda Nel Weggesteek in ’n eenrigtingstraat in die middestad, is ’n koffiewinkel met goeie koffie en heerlike
happies.
Dit neem twee oproepe vir ons om by die Kalahari Coffee and Jazz Café uit te kom. Die GPS
aanwysings het my in Windhoek-Wes laat draai, toe ek besef ek is op die verkeerde plek, en my
eetmaat het volgens haar aanwysings aan die verkeerder punt van Werner Liststraat geëindig.
Ek sal erken, die spyskaart kort bietjie werk, wat in ’n plastiekslopie voor my neergesit word.
Toe ek die papiere uit die slopie trek, is daar aantekeninge op elke papier, wat aandui dat ek hier net
gaan koffie kry en kafeïenvry is nie beskikbaar nie. Ons bestel toe ’n koffie uit Ethopië en Uganda en
hoewel ek nie op die oomblik kafeïen mag inneem nie, was dit beslis die kroek werd. Die koffiebone
is ook te koop beskikbaar.
Almal hier is vriendelik en die personeel maak seker alles is reg terwyl ons wag. Ons bestel beide ’n
hoender-mayonnaise toast en die speserye op die broodjie laat my hunker na nog.
Hoewel hulle Facebook-blad sê hulle maak eers 09:00 oop, staan die span al van 07:00 gereed vir
diegene wat gou ’n koffie, voor die besigheidsdag begin, wil geniet. Die kelnerin verduidelik dat hulle
in die aande ’n jazz bar is.
Dis heerlik stil, met net ‘n handvol mense in die kafee. Ons ontspan onmiddellik en geniet die
kunswerk teen die muur.
Afgesien van die beperkte spyskaart, was hierdie ’n heerlike nuwe ontdekking. Gaan skep bietjie
asem by Kalahari Coffee and Jazz Café. Hulle is in Werner Liststraat (by die ou Uncle Charlie’s
Pawnshop-perseël) oorkant SWAVET geleë. Hou ook hulle Facebook-blad dop vir spesiale
aanbiedinge en vertonings.