Bou 'n brug

26 October 2018 | Columns

Toe ons jonger was en 'n probleem ondervind het, het almal baie sarkasties toegesnou, “bou 'n brug en kom daaroor”.

In die werkplek moet ons gereeld met oplossings vorendag kom en nie net skouers optrek en sê ek het 'n probleem, wat nou? nie. Maar wat gemaak as jy by 'n punt wil uitkom, maar tussen die twee punte is net oseaan? Vir baie is dit 'n gulde geleentheid om te sê hulle gaan oorsee.

Maar die president van China het 'n ander plan gehad. Toe bou hy maar 'n brug. Letterlik. Die brug is Dinsdag, nege jaar ná konstruksie begin het, amptelik geopen.

Dit is die langste brug wat oor water strek, 'n volle 55km! Die doel was om Hongkong en Macau met die Chinese stad Zhuhai met mekaar te verbind.

Die brug het sowat N$284 miljard gekos en 18 werknemers is tydens konstruksie dood. Ek wonder of die president toe ook 'n oplossing gekry het om die werkplek veiliger te maak? Of het hy dit eerder iemand anders se probleem gemaak? Het hy ooit omgegee?

Een van die probleme wat ondervind was, was waarheen met die skepe? Antwoord? 'n Onderwater tonnel.

Dan moet die motors maar onder deur. Ja, onder deur die grote oseaan, waar jy heel moontlik vir Jaws gaan ontmoet.

Die seksie strek oor 6.7km en word verbind deur twee kunsmatige eilande.

Dit is ook 44.5m diep. En hoewel hierdie hele projek vir my maar na 'n simpel idee klink, het hulle my hier al klaar lewendig verloor, want ek wil nie eers op water wees nie. Beslis nie daar onder nie.

Hoewel sommige Chinese beamptes glo dat tolgeld sowat N$20.5 triljoen kan inbring (ek is nie seker hoe lank dit kamma moet vat nie), is menigte nie so seker nie. Die grootste meerderheid glo dat die regering nooit hul geld op hierdie projek gaan terugmaak nie, siende dat 'n derde van enige inkomste vir opknappingswerk gebruik sal moet word.

Moenie dink almal mag hierdie brug gebruik nie. Spesiale permitte is daarvoor nodig, seker maar om 'n vreesaanjaende traffic jam te vermy. Hoewel beamptes vroeër gesê het dat sowat 9 200 motors daagliks van die brug gebruik sal maak, is dié syfer nou verminder.

Asof die hele brug my nie reeds paniekerig maak nie, moet motoriste ook op 'n sekere punt aan die anderkant van die pad begin ry.

Dié nuutjie is egter nie die enigste reusebrug wat oor 'n massa water strek nie. Die Russiese president het in Mei vanjaar 'n brug geopen wat 19km lank is.

Dit is vir beter toegang tot die Krim, wat in 2014 deur Rusland geanekseer is.

En as China dalk 'n brug hier in die see wil kom bou om die afstand van Walvis na Hentiesbaai nader te maak, dan ry ek maar die langpad om. En as ek vir Jaws wil kyk dan doen ek so in die gemak van my sitkamerbank, baie ver weg van die diepe water.

Jy weet immers nooit wanneer Moeder Aarde 'n afdag het nie.