Atleet teleurgesteld met maraton kanselasie

Yolanda Nel
Yolanda Nel Na maande se voorbereiding, is Japie Greyvenstein teleurgesteld met die afstel van die Two Oceans maraton wat in April in Kaapstad moes plaasvind.
“Dit is regtig hartseer. Ons het soveel ure spandeer om voor te berei,” het hy gesê. Hierdie maraton het as fondsinsamelingsgeleentheid gedien om geld vir die Senior Park tehuis in te samel.
Die fiksheidsinstrukteur is ses jaar gelede met osteoartritis gediagnoseer en dit is juis hoekom hy besluit het om vir bejaardes geld in te samel. “Ek verstaan presies hoe osteoartritis jou lewe kan beïnvloed. Ek ken die pyn wat daarmee gepaard gaan en kan my net indink hoe dit vir ’n ouer persoon moet voel,” sê hy.
Deur aan die marathon deel te neem, wou hy ook bewusmaking oor die toestand skep. Japie het in 2018 aan die Hangana-marathon van 42.2km deelgeneem en só N$12 000 ingesamel wat hy aan Senior Park en die Katutura Ouetehuis geskenk het.
Die Two Oceans sou sy verste afstand nog gewees het. Hy ervaar geweldig pyn in sy rug en heupe, wat dit moeilik maak om langafstande te hardloop, maar hy het deurgedruk met sy oefenskedule. “Omdat die pyn so erg is, kan ek net een keer ’n week my afstande oefen,” verduidelik hy en voeg by dat hy homself ook fiks hou met ander soorte oefening en ’n gebalanseerde eetplan.