Baba Joshua sterk aan

Yolanda Nel
Windhoek • Yolanda Nel

Die 4-maande oue baba van Gobabis wat met ’n geboortedefek gebore is, het verlede week sy tweede operasie in die hoofstad ondergaan. Hy sterk op die oomblik by die huis aan voor hy ’n derde operasie kan ondergaan.

Klein Joshua Maasdorp se defek het kort ná geboorte tot ’n kolostomie gelei. Die hoop is dat die operasies die probleem sal herstel. “Dit was ’n spanningsvolle tyd terwyl Joshua in teater was,” vertel pa Gert. Die operasie het vier ure geduur en het sy ouers met talle vrae geworstel. “Jy weet nie hoeveel pyn jou baba het nie. Jy weet nie of hy gaan wakker word en of die operasie ’n sukses gaan wees nie,” vertel hy.

Maar na baie gewag, blyk dit die operasie was wel ’n sukses en Joshua herstel mooi. “Hy moet nou gesond word voor die volgende operasie oor vyf weke,” sê sy pa.

Tydens die laaste operasie sal die kolostomie toegemaak word en sy dermpies aanmekaar geheg word.

Die familie is dankbaar vir die gemeenskap se ondersteuning. “Die emosionele bystand het ons gedra. Elke oproep en SMS waardeer ons opreg. Ons kan sien dat Joshua diep in mense se harte gekruip het,” sê Gert.

’n Geldinsameling is vroeër vanjaar vir Joshua gehou en kon twee operasies reeds betaal word. Die familie is besig om nog geld in te samel vir die derde operasie.

Indien iemand ’n bydrae wil lewer vir die laaste operasie, kan die Kempen-Maske Trust gekontak word by [email protected].