Beste MIV-behandelingsopsies vir pasgeborenes
26 November 2020 | Health
“Babas met MIV maak ’n klein deel van die MIV-positiewe bevolking uit en min antiretrovirale middelformulerings en farmakokinetiese data is tans beskikbaar om optimale behandeling te help rig,” sê prof Adrie Bekker van die Departement Pediatrie en Kindergesondheid aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).
“Ons het betekenisvolle vordering op die gebied van MIV gemaak, maar daar is steeds ’n gaping wat betref optimale voorkoming en die behandeling van babas van ma’s met MIV.”
In hoё-inkomstelande word behandeling met ’n kombinasie van drie middels aanbeveel vir pasgeborenes met ’n hoё risiko vir MIV-besmetting, maar baie min antiretrovirale middels is in werklikheid goedgekeur vir gebruik onder pasgeborenes (wat as die eerste 28 dae van lewe gedefinieer word).
Dit is ook moeilik om die formulerings wat tans beskikbaar is, aan babas toe te dien – ma’s en versorgers moet ’n spuit gebruik om spesifieke volumes af te meet, wat boonop verander soos wat die baba gewig optel. Voorts bevat van die bestaande kombinasies hoё konsentrasies van alkohol en polipropileen-glikol, wat toksies kan wees as dit van geboorte af gebruik word.
Die nuwe VDK-formulering hoef nie in alkohol opgelos te word nie, omdat dit in die vorm van m poeier is wat met ’n klein hoeveelheid borsmelk gemeng word. Dit smaak voorts lekkerder en hoef nie in ’n yskas verkoel te word nie. As die doeltreffendheid van hierdie formulering bewys word, kan ’n baba met ’n hoё risiko dit vir 4-6 weke as MIV-profilakse ontvang, of in die geval van MIV-besmetting aanhou om dit te gebruik.
“Hierdie is die eerste keer dat ons ’n nuwe lopinavir/ritonavir-formulering van geboorte af sal bestudeer, asook die gebruik van abacavir van so ’n jong ouderdom af. Derhalwe sal die vasstelling van middelblootstelling om dosering te rig belangrik wees,” verduidelik Bekker.
“Hierdie middelkombinasie sal maklik van geboorte af toegedien kan word. Voorts sal dit minder middelwisselings later meebring, wat beteken dit sal minder verwarrend vir versorgers wees.”
Bekker en dr Tim Cressey van die Chiang Mai-universiteit in Thailand is die hoofnavorsers van die PETITE-studie, wat die evaluering behels van die farmakokinetika en veiligheid van ’n nuwe vaste-dosis kombinasie (VDK) 4-in-1-korrelformulering (abacavir/lamivudine/lopinavir/ritonavir) vir pasgeborenes wat aan MIV blootgestel is.
Die studie word aangedryf deur ’n hoёprioriteit-navorsingsgaping wat in 2018 deur die Wêreldgesondheidsorganisasie se Pediatriese Antiretrovirale Middeloptimaliseringsgroep (Pado) geïdentifiseer is.
“Ons het die studieprotokol sedertdien aan die Pado-groep voorgelê en sal die resultate bekend maak soos wat ons vorder. As hierdie studie as doeltreffend en veilig bewys kan word, het dit die potensiaal om globale beleid te help rig,” aldus Bekker.