Hare waai tydens Rooivlagdag-herdenking

Yolanda Nel
Yolanda Nel

Lede van twee verskillende faksies was die afgelope naweek woedend tydens die herdenking van Rooivlagdag op Okahandja, ná die polisie noodgedwonge moes intree en mense verhoed het om die historiese Herero-grafte te besoek.

Die polisie-ingryping het gekom ná ondersteuners van die Otjika Tjamuaha-koninklike huis en die Ovaherero-tradisionele owerheid (OTA) geweldadig begin raak het en ’n pistool deur een man gebruik is om die skare te dreig. Dit het gebeur na die faksies nie kon saamstem oor waar die herdenking moes plaasvind nie.

Die hoof van OTA, Vekuii Rukoro, het die polisie daarvan beskuldig dat hulle polities gemotiveerd is nadat toegang tot die grafte beperk is, wat verhoed het dat ’n waardige herdenkingseremonie kon plaasvind.

Talle mense het op Facebook uitgevaar oor die geleentheid wat nie ten volle herdenk is nie. Een het gesê dat ’n persoon wat in ’n nasionale begraafplaas begrawe is, aan die nasie behoort en dat mense nie verhoed mag word om die grafte te besoek nie. Daarop het iemand reageer en gesê dat die beperkings op tradisionele rituele gegrond is en dat tradisionele Ovahereros begraafplase net op sekere datums besoek.

Ander op Facebook het gesê hulle het die herdenking geniet, ondanks teenstrydige berigte. “Die enigste hindering was die polisie,” het hy aangevoer.

Inspekteur-generaal van die Namibiese Polisiemag, Sebastian Ndeitunga, het aan Nampa gesê hy het opdrag gegee om niemand by die grafte toe te laat nie. “Wanneer aksies deur die publiek of ’n groep gevaar uitlok, het die polisie geen keuse om dit te voorkom nie,” het hy gesê.