KKNK saam – in jou eie huis!
27 July 2020 | Art and Entertainment
In samewerking met Mothership Studios word daar vanaf Donderdag 30 Julie tot Donderdag 24 September ’n eksklusiewe musiekreeks aanlyn aangebied wat musiekliefhebbers in die gemak en veiligheid van hulle huise kan geniet.
Dié aanlyn reeks bevat optredes deur van Suid-Afrika se voorste musikante en vermaaksterre, soos hulle nog nie sedert die inperking gesien is nie.
“Dit is vir ons belangrik om steeds produksies van hoogstaande gehalte na ons gehore te bring,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. “Elke konsert is ’n besonderse en unieke ervaring, wat deur die vervaardigers van onder meer die Republiek van Zoid Afrika opgeneem is.”
Theart sê dat hoewel die KKNK nie vanjaar feesgangers op Oudtshoorn kon verwelkom nie, hulle steeds die gees van die fees na gehore se huise kan bring. “Musiekliefhebbers, oud en jonk, gaan beslis hierdie reeks van eksklusiewe optredes geniet. Verskeie musiekgenres – van rock tot country, is ingesluit, gehalte-vermaak vir die hele gesin.”
Die Mothership Sessions-optredes is in Karen Zoid se ateljee opgeneem.
“Niks sal ’n lewendige konsert in ’n stadion, ’n arena, of in ’n teater kan vervang nie, maar inperking het ons almal gedwing om anders na dinge te kyk,” verduidelik Zoid. “Dis nie noodwendig ’n slegte ding nie, dis net anders. Daar sal waarskynlik nie weer in die nabye toekoms enige live shows aangebied kan word nie, maar dit verhoed ons nie om steeds musiek vir ons mense te maak nie.”
Op die spyskaart
• Donderdag, 30 Julie: Elandré het Suid-Afrika se harte gesteel met sy debuutalbum Kleindorp-Dromer en sy kenmerkende diep stem.
• Maandag, 10 Augustus: ’n Besonderse optrede deur Karen Zoid – op haar verjaarsdag – begelei deur haar orkes, asook Theo Crous, hoofkitaarspeler van die legendariese Springbok Nude Girls.
• Donderdag, 20 Augustus: Suid-Afrika se top indie-rockgroep, Watershed is een van die land se gewildste uitvoerprodukte. Hulle optrede beloof fantastiese musiek, waaronder ’n hele paar van hulle ikoniese treffers.
• Donderdag, 27 Augustus: Die Afrikaanse liedjieskrywer Jan Blohm is te sien in die show van ’n leeftyd: meesleurend, rou en eerlik, net soos sy musiek.
• Donderdag, 3 September: Elvis Blue bied ’n sielvolle vertoning aan met van sy gewildste liedjies waaronder Die Hemel, Jou Huis, Toe ons Jonk Was en Lighthouse.
• Donderdag, 10 September: Anna Davel betower kykers met ’n musikale reis van akoestiese klavier, saksofoon en melodieë. Sy sing van haar eie liedjies, sowel as musiek deur van die grootste legendes van ons tyd.
• Donderdag, 17 September: Die jong ster Roan Ash kombineer folk-musiek, blues, country en rock met sy strelende melodieë en lirieke.
• Donderdag, 24 September: Eet Kreef! sluit die eerste Mothership Sessions op ’n hoë noot af. Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band se ikoniese album word 30 jaar ná dit oorspronklik uitgereik, is gevier. Met aKING se hoofsanger Laudo Liebenberg, ’n vuurwarm band en nuwe verwerkings van ikoniese songs soos Energie, Hillbrow, Hoe ek voel en al die treffers wat van dié plaat ’n kultustreffer gemaak het, sorg hierdie show vir meer as een hoendervleis-oomblik.
Kaartjies
Musiekliefhebbers van regoor die wêreld kan inskakel vir die Mothership Sessions-reeks en elke konsert in hoë-definisie geniet. Kaartjies kos N$150 per konsert - vir die hele gesin om saam te geniet - en is op www.webtickets.co.za beskikbaar, vanwaar die optredes ook gekyk kan word op ’n baie gebruikersvriendelike platform.