'Lisensie' kom hom duur te staan

Yolanda Nel
Yolanda Nel



Ná talle waarskuwings om die regte kanale te volg om ’n bestuurslisensie te bekom, is ’n inwoner van Windhoek duisende dollar kwyt en steeds sonder ’n bestuurslisensie.

Toe Jaco Klaasen* na vele gesukkel nog steeds nie ’n lisensie kon bekom nie, het hy ’n onbekende man wat sy dienste aangebied het, N$3 000 betaal wat die lisensie “baie vinnig vir hom in die hande te kry”.

Op ’n vasgestelde tyd, het Klaasen by Windhoek se NaTIS-kantoor in die noordelike nywerheidsgebied die man ontmoet en die geld aan hom oorhandig. Die man is daarna weg en ná ’n lang gewag, het Klaasen besef hy is sy geld kwyt – en het hy nog steeds nie ’n bestuurslisensie nie.

Klaasen is maar een van talle wat in hierdie soort strik getrap het en waarsku die Paaie-owerheid (RA) opnuut vir die man op straat om net met personeel agter die toonbanke in die Namibiese Verkeersinligtingstelsel (NaTis) besigheid te doen.

Volgens die kommunikasie bestuurder van die RA, Hileni Fillemon, stap kwaaddoeners buite NaTis-kantore rond onder die voorwendsel dat hulle NaTis se dienste aan kliënte lewer. Hulle is egter net besig om mense in te loop. “Mense verloor veral geld wanneer hul vir permitte aansoek doen. ’n Aansoek kos N$10, maar sommige mense is al soveel as N$1 000 gevra om kamma ’n aansoek in te dien,” sê Fillemon.

Sy waarsku die publiek dat personeel van NaTis of die RA nooit buite hul kantore sal werk nie. “Hulle sal ook nooit iemand kontak om ’n betaling te maak nie, veral nie via E-wallet nie,” sê sy.

Indien enige iemand dienste van NaTis aanbied, moet dit spoedig aan ’n sekuriteitswag gerapporteer word. Die RA se bedrog hulplyn kan ook by 061 284 7000 gekontak word.

*Skuilnaam