Maak jou hart oop vir Tufi
19 November 2020 | Local News
Twaalfjarige Tuufillwa Ndamonako (Tufi) het toe sy maar agt maande oud was, ’n beroerte
gehad wat haar vir ’n maand lank in ’n koma gehou het en die regterkant van haar lyfie
verlam gelaat het.
Dokters het destyds nie hoop gehad dat die klein dogterjie ooit sou loop nie en dat Tufi haar
hele lewe in ’n rolstoel sou deurbring. Maar Tufi was tóé al ’n vegtertjie en hoewel dit tog
moeite verg, hardloop sy vandag die wêreld vol. “Nee, Tufi loop nie. Sy hardloop en het
hope energie,” sê haar pleegsorg ma, Karlien Kruger.
Benewens die letsels wat gesien kan word na Tufi se beroerte, is sy ook met serebrale
verlamming gediagnoseer.
Tufi is al vier jaar in Karlien se sorg, ná Dagbreek skool haar gevra het of sy nie van enige
pleegouers weet nie. Toe Karlien hoor dat Tufi destyds die vorige Kersfees in ’n skuiling vir
haweloses derugebring het, het sy geweet sy moet haar hart en huis vir die dogtertjie
oopmaak.
Hoop
Karlien het vroeër vanjaar vir Tufi na dr Tommy van Wyk geneem en is daar gevind dat met
behandeling, haar lewensgehalte verbeter kan word en dat sy ’n goeie kandidaat is vir die
stemselbehandeling. “Nie net kan dit moontlik van die breinskade herstel nie, maar kan dit
’n geweldige impak op haar ADHD ook maak,” vertel Karlien.
Die behandeling kos sowat N$50 000 en ’n GoFundM- blad is nou begin om geld daarvoor in
te samel. “Ek wil dit vir Tufi doen en vir ’n haar ’n beter lewe gee.”
Tufi is gaande oor teken en sy teken graag vierkantige katte. “Ek is in die proses om Square
Cat as ’n handelsmerk te registreer. Ons wil dan hempde en sokkies en hoedjies maak om
nog geld te genereer,” sê Karlien opgewonde. En met die insamelingsprojek glo sy, kan hulle
soveel meer kinders help.
Sou jy ’n bydrae tot Tufi se behandeling wil maak, besoek gerus die fondsinsamelingsblad by
www.gofundme.com/f/therapy-for-tufi