Nuwe BMW 3-reeks maak sy buiging

Met meer as 15 miljoen eenhede wêreldwyd verkoop oor meer as 40 jaar, en wat ses modelgenerasies opgelewer het, is die nuwe BMW 3-reeks voorwaar 'n pionier in sy ­segment.

12 May 2019 | Motors

Kaapstad • Dirk Gallowitz



BMW blyk steeds die wêreld se voorste vervaardiger van premium voertuie te wees en spog nou met agt agtereenvolgende jare se rekordverkope.

BMW SA het onlangs sy 7de ­generasie 3-reeks teen die hange van Tafelberg in die mooiste Kaap bekend gestel en ons was daar.

Ons het gewoond geraak aan 'n 3-reeks (die modelreekse E30, E36, E46, E90 en F30) wat plaaslik gebou is in die vervaardiger se Rosslyn-aanleg buite Pretoria. Die aanleg bou deesdae die groep se X3-sportsnuts daar. Die nuwe 3-reeks met die modelnaam G20 word egter aanvanklik vir Suider- Afrika uit München ingevoer, maar sal later vanuit BMW se San Luis Potosi-aanleg in Mexiko kom. Die G20 word ook in China vervaardig.

Ná meer as 500 km agter die stuur op van die Kaap se beste paaie en oor die mees uitdagende bergpasse van die Boland, was dit duidelik dat die nuwe 3-reeks weer eens die standaard vir die middelvlak- luukse motorsegment 'n trappie hoër geplaas het.

Met uitsonderlike paddinamika, uitstekende bougehalte, topgehalte afwerking in die kajuit, asook die nuutste­ tegnologie en elektronika tans in die motorindustrie beskikbaar, staan die G20-modelreeks tans boaan die leer.



Van buite gesien

Van buite is die nuweling meer ­dominerend en tog ook sagter op die oog, afhangend vanuit watter hoek dit beskou word. Agter is die rondings sagter met 'n nuwe LED- ­ligontwerp wat effe trekke na die Lexus het. Weg is die sterk vou in die metaal van die uitgaande model wat oor die deure gestrek het, met die ­nuweling wat nou 'n sagter en skoner sykantprofiel ­ten toon stel.

Die voorkant, veral in M-Sport-afwerking, vertoon egter veel meer dominant. Die nuweling se groot niertjierooster en nuwe lighulsel met geïntegreerde flikkerligte bied nou laserlig LED-hoofligte wat die pad vorentoe tot 530 m ver kan priem. Dit bring 'n veel meer moderne voorkoms, terwyl die gapende luginlate met skerp hoekige ontwerp voor onder in die lugskort weer aggressief uitstaan, soortgelyk aan wat op die magtige M5-model gebruik word.

Die G20-modelreeks word gebou op BMW se CLAR-platform en is 76 mm langer en 16 mm breër as die uitgaande F30-model, maar is omtrent identies in hoogte. Die as-afstand is egter met 41 mm verleng, terwyl die voor- en agteraste met onderskeidelik 43 en 21 mm verleng is ten einde paddinamika en hantering aansienlik te verbeter.

Ondanks die groter bak, het die ingenieurs dit reggekry om met behulp van ligter materiale en die CLAR-platform die nuweling se bakrigiditeit te verstewig, gewig met 55 kg te verminder, asook 'n optimale 50/50-ge­wigs­­­verdeling tussen voor en agter te bewerkstellig. Die resultaat is 'n briljante bestuurdermotor met klas­leidende dinamika en verfyndheid op die pad.

Danksy die langer as-afstand geniet passasiers meer skouer-, elmboog- en beenruimte, met 'n bagasieruim wat 480 liter kan hou.



Binne

'n Nuutontwerpte inligtingskerm, digitale instrumentgroepering en 'n meer moderne instrumentepaneel dra by tot 'n sportiewer karakter in die kajuit. Ons is veral gaande oor die nuwe digitale instrumentepaneel, maar die naalde van die spoedmeter en toere­teller wat kloksgewys en antiklok­s­gewys na mekaar toe beweeg, neem tyd om aan gewoond te raak.

Die G20 kom ook met heelwat bestuurdershulpstelsels toegerus waaronder blindekolwaarskuwingsgonsers en ook 'n hulpstelsel wat die voertuig terug in die baan “dwing” soos die voertuig buite die baan “dryf”.

BMW se “Hi BMW”-stelsel wat met stemopdragte en handbewegings ver­skeie van die klank- en ander nutsfunksies uitvoer, sorg vir indrukwekkende interaksie met 'n blikbrein, maar die stelsel kan soms ongevraag indruis as sekere woorde in 'n kajuit-gesprek die blikbrein “aktiveer”. Die stelsel werk blykbaar progressief beter hoe meer dit die stem en uitspraak van die bestuurder “hoor' en beter verstaan.



Enjin en verrigting

Die nuwe 3-reeks is bekend gestel met slegs twee viersilinder-enjinopsies, naamlik 'n 2.0 liter-turbodiesel (320d) en 'n 2.0 liter-turbopetrol (330i). Meer enjinopsies, waaronder die nuwe ­topmodel M340i X-drive (275 kW, 500 Nm) wat krag deur al vier wiele na die pad stuur, volg later vanjaar, asook 'n 330 turbodieselmodel wat 195 kW/580 Nm se piekverrigting gaan lewer. Die 320d lewer 140 kW en 400 Nm danksy “sequential bi-turbo” aanjaging (die uitgaande model het 'n enkelturbo gebruik) wat die maksimum wringkrag vroeër in die toere­strek beskikbaar maak en tot by hoër toere vashou. Die gevolg is 'n gladde en konstante kraglewering deur die toerestrek.

Die 330i-petrolmodel gebruik egter steeds 'n enkelturbo met twee vlakke wat in die nuwe G20 effe meer krag (190 kW) lewer, asook sorg vir 'n klein verbetering in wringkrag tot 400 Nm. Beide modelle is toegerus met 'n 8-spoed, ZF outomatiese ratkas wat krag na die agterwiele stuur.

Nou in sy derde generasie, is die ratkas opgedateer en verfyn om vinniger oor te skakel, asook korter oorskakelings vir die laer ratte te doen.

Ek geniet dit egter om self die ratte te verwissel met die ratspane agter die stuurwiel.



Brandstofverbruik

Uiteraard het BMW se witjasse ook brandstofverbruik verbeter en die 330i se amptelike gemiddelde verbruik word aangegee as 6.4 l/100 km, terwyl die 320d ons verstom het met 'n brandstofverbruik tydens ons toetsperiode van net 5,6 l/100 km. Die amptelike gemiddelde syfer volgens BMW word aangegee as slegs 4.6 l/100 km wat in ons mening haalbaar is aangesien ons verkies om entoesiasties in “Sport”-modus te ry eerder as om in die ECO-modus te kyk hoe laag ons die verbruik kan kry.

Ons 330i-model het beskik oor die opsionele M-Sport veerstelsel wat die bak 1 cm laer oor die wiele laat hurk en ook die skokbrekers se demping elektronies beheer vir 'n heel aangename rit ondanks die 19”-wiele en laeprofielrubber.



Slotsom

Die nuwe 3-reeks lewer 'n kragtoer soos min op die pad met tipiese BMW- paddinamika en -verrigting vir 'n ­genotvolle sportiewe ry-ervaring.

Met die verbeterde kajuit is die Beemer nou, met 'n moderne en ­weelderige kajuituitleg en boonop slim tegnologie, na ons mening die klasleier in die medium grootte luukse segment.

Die nuweling behoort ook 'n jonger generasie koper nader te hark.

Terwyl die 330i se verstommende verrigting my hartsnare roer, is dit die 320d se balans, seepgladde krag­lewering en uitstekende brandstof­verbruik wat my regmerkie kry.

Similar News

 

For all your ­vehicle ­system needs

1 day - 26 May 2019 | Motors

From car radios, central locking, alarms and reverse cameras, to handsfree solutions, park distance and speed cruise control, Absolute Vehicle Systems CC offers it all.Absolute...

Duster kry viervoet-vastrap vir veldpadry

1 day - 26 May 2019 | Motors

Kaapstad • Dirk GallowitzRenault se Duster is wêreldwyd gewild en het reeds meer as 'n miljoen eenhede verkoop. Die Fransman het ook 'n groeiende aanhang...

Brandrissie warm op teer en grys

1 week ago - 19 May 2019 | Motors

Kaapstad • Dirk GallowitzPorsche se derde generasie Cayenne sportiewe sportsnuts is verlede jaar plaaslik bekend gestel en ook aangewys as ’n finalis in die 2019...

For all your out of warranty needs

1 week ago - 19 May 2019 | Motors

When our trusted wheels are in need of some tender loving care, all we want is affordable genuine car parts without compromising on quality.And at...

Nuwe Triton kom met vars aanslag op bakkiekroon

3 weeks ago - 05 May 2019 | Motors

Kaapstad • Dirk Gallowitz Mitsubishi is nie sommer enige hierjy-vervaardiger as dit by bakkies kom nie. Met meer as 40 jaar se ondervinding van bakkies...

The key to your dream car

4 weeks ago - 28 April 2019 | Motors

Bay Vehicle Solutions in Walvis Bay specialises in the sale of a wide variety of good quality, well-maintained and well-priced second hand cars. They are...

Which cars have the best resale value?

1 month - 14 April 2019 | Motors

The best car – in terms of resale value – is the Renault Kwid!This has been revealed by Darryl Jacobson, managing director of SA-based True...

Quality used vehicles at Imperial Auto

1 month - 14 April 2019 | Motors

Imperial Auto is a used car dealership that has a lot to offer when it comes to buying and selling quality used cars.The business, located...

Nissan NP300: Your modern day workhorse

1 month - 07 April 2019 | Motors

Pupkewitz Nissan Walvis Bay is now home to the brand new Nissan NP300 single cab 4x4 bakkie.Boasting a 2.5 diesel engine, this commonrail turbo diesel...

'n Legende is terug!

1 month - 31 March 2019 | Motors

Kaapstad • Dirk Gallowitz Dink maar terug aan die Toyotas van weleer en name soos Conquest, Tazz en RunX sal onwillekeurig herinneringe oproep van gewilde...

Latest News

Raak nou deel van Klub...

1 day - 26 May 2019 | Society

Enige ouer sal kan getuig dat om 'n kind groot te maak, aan jou beursie knaag. Juis daarom vra Huis Maerua kinderhuis vir bystand.Individue en...

Een man se roeping om...

1 day - 26 May 2019 | Social Issues

Yolanda Nel Ongeag die uitdagings wat een man self in die gesig staar, het hy besluit dat wanneer God praat, dan bly jy steeds gehoorsaam...

Red die borste

1 day - 26 May 2019 | Health

Windhoek • Yolanda Nel Hierdie entrepreneur wil graag in sy gemeenskap terugploeg en dus het hy besluit om geld in te samel om bystand te...

Ontbyt saam vir boere

1 day - 26 May 2019 | Disasters

Windhoek • Yolanda Nel Wanneer ons eet, dink ons selde aan hoe die eier, melk of spek op ons bord beland het. Die meeste...

Erongo shudders under weight of...

1 day - 26 May 2019 | Disasters

Swakopmund • Leandrea LouwAlmost 13 000 bags of maize meal were distributed to households in the Karibib and Daures constituencies between November 2018 to March...

Graduate shares her story

1 day - 26 May 2019 | People

Walvis Bay • Leandrea LouwChloé Paulse (25), a graduate of the University of Namibia (Unam) medical school, grew up in the salty and dusty streets...

International recognition for Sun Cyles

1 day - 26 May 2019 | Environment

Windhoek • Yolanda Nel The co-founder of Namibia's own Sun Cycles was awarded the National Energy Globe Award during SACREEE's first industrial energy efficiency conference...

Plans to place water along...

1 day - 26 May 2019 | Disasters

//Ai-/Ais • Erwin Leuschner The popular Fish River hiking trail in southern Namibia is threatened with closure at the end of the month due to...

The world can be your...

1 day - 26 May 2019 | Education

The international vlogging competition Faces2Hearts is a competition organised by the European Union that aims to finding 20 young vloggers to take part in a...

Load More