Pragtig en gesofistikeerd
Die Mazda 3 het sedert sy bekendstelling in 2003 wêreldwyd reeds meer as ses miljoen eenhede verkoop en is 'n topverkoper in die Mazda-stal.
28 July 2019 | Motors
Met 'n geskiedenis wat so ver terugstrek as 1963, met die Mazda Familia-motor wat later tot die gewilde klein 323-modelreeks gelei het, het Mazda-motors 'n reputasie gebou as taai en betroubare wiele wat lig op brandstof en goedkoop was om te onderhou.
Die uwe het darem selfs in die vroeë tagtigs baie sorgvrye kilometers met my 1500 cc 323 afgelê, of soos dit spottenderwys in die volksmond bekend gestaan het, as 'n “tree-to-tree”-Tarzan-karretjie.
Terwyl die klein Mazda gewild was, moes dit in ons geweste altyd aan die agterspeen suig as dit gemeet was teen die tydgenote Golfs, Fords en Toyotas se verkope.
Ongelukkig het die situasie vandag steeds nie verander nie en met hedendaagse kopers wat ál meer na ekonomiese, kompakte aktiwiteitsvoertuie smag, gaan die verkoopsyfers van sedanmotors steeds afwaarts neig.
Mazda kom egter met 'n vars benadering vir die nuwe model waar treffende stilering en uitstekende afwerking kopers moet teruglok. Die sewende-geslag “Drie” is 'n uitstekende voorbeeld en 'n prysenswaardige poging om die model te laat voortbou op die legendariese betroubaarheid van vorige generasies.
Die nuwe 3 gebruik steeds Mazda se Sky-Active-tegnologie vir die enjins, asook “Skyactiv-Vehicle Architecture” vir 'n innoverende onderstel en bakstruktuurontwerp.
Eie identiteit
Ook is daar weer twee weergawes met die luikrug en sedan wat apart van mekaar ontwerp en gestileer is. Die gevolg is duidelike onderskeid en 'n eie identiteit vir elkeen. Waar die luikrug veral die oog tref met sportiewe lyne, is die nuwe sedan met 'n meer stylvolle voorkoms beklee.
Die sedan is met 75 mm gerek en hurk 10 mm laer op die pad, terwyl die luikrug met 5 mm in lengte gekrimp het en 15 mm laer as die uitgaande model is. Beide se wielbasis is wel 25 mm langer wat vir 'n groter binneruim en meer sublieme rit sorg.
Mazda se Kodu-ontwerpstyl, wat gestalte gee aan “the soul of motion”-filosofie, plaas nou groter klem op die “minder-is-meer-benadering” waar weggedoen word met gewone aksentlyne en liefs gebruik maak van groter “skoon” oppervlakke. Die resultaat van die koepee-agtige daklyn en soepel lyne by veral die geronde stert en opwaartse swiep van die agterste kantvensters se ontwerp van die luikrug, is 'n visuele kragtoer wat selfs die Italianers met passievolle begeerte sal laat kyk.
Volgens Mazda is dit egter die kajuit wat die grootste vernuwing ondergaan het. Die binneruim verras inderdaad met 'n sensoriese ervaring van gehalte en visuele trefkrag. Kajuitontwerp fokus duidelik op 'n minimalistiese, funksionele en stylvolle uitleg terwyl groot klem geplaas is op materiale van hoogstaande gehalte wat uitstekend afgewerk en verpak is. Die resultaat is 'n klasleidende kajuit met instrumentasieuitleg en ontwerp wat rondom die bestuurder beplan is, soos die nuutontwerpte sitplekke, herontwerpte middelkonsole asook die meervlakkige voorpaneel. Ons hou baie van die 3-ring-analoog-voorkoms van die instrumententepaneel met digitale inligting.
Standaard toerustingvlakke is hoog in die nuwe modelle en sluit in sleutellose toegang en aan/afskakel, klimaatbeheer, satellietnavigasie, spoedbeheer, asook USB en 12V kragkoppelings. Al die modelle bied ook n stelsel waar inligting op die venster voor die bestuurder geprojekteer word (Heads-Up Display).
Die Mazda Connect media- en inligtingstelsel met 'n groter 8,8”- skerm maak sy buiging in die nuwe Mazda 3 en anders as die uitgaande model se raakskermfunksionaliteit, is toegang na die stelsel nou slegs met behulp van 'n draaiknop op die sentrale konsole by die ratkierie. Die stelsel bied Android Auto en Apple Carplay vir slimfoonkoppeling. Die spesiaal ontwerpte Bose-klankstelsel in die topmodel verdien spesiale melding.
Beide die sedan en luikrugmodelle is beskikbaar met Mazda se Skyactiv-G 1,5 liter- of 2,0 liter-petrolenjins.
Terwyl die 1,5 liter-enjins aandrywing verskaf vir die intreevlak “Active” asook die luukser “Dynamic” en “Individual” afwerkingsvlakmodelle, kom slegs die topmodel “Astina” toegerus met die 2.0 liter-enjin.
Die 1,5 liter-viersilinder normaal geaspireerde petrolenjin lewer 88 kW se piekverrigting met 'n maksimum wringkrag van 153 Nm. Amptelike brandstofverbruik word aangegee as 6,0 l/100 km.
Die 1998 cc viersilinder-petrolenjin in die Astina-modelle bied ook nie turbokrag nie en lewer 121 kW en 213 Nm se pieksyfers met 'n amptelike brandstofverbruiksyfer wat as 6,3 l/100 km aangegee word.
Aandrywing na die pad is deur die voorwiele by al die modelle. Die intree “Active” is slegs beskikbaar met 'n 6-spoedhandratkas, terwyl die middelvlak “Dynamic” en “Individual” weergawes 'n keuse bied van 6-gang outomatiese of 6-gang-handratkaste.
Die topmodel “Astina” is egter slegs met 'n 6-gang-outokas beskikbaar.
Beproef
Die nuwe Mazda 3 is in die dun lug van die Gauteng se Hoëveld bekend gestel en het veral die 1.5 liter-enjin se gebrek aan turbokrag soos by van sy meedingers, duidelik blootgelê.
Ek is seker die ervaring sou aan die kus veel meer aangenaam wees, maar verbysteek teen 'n effe opdraand, veral in die swaarder sedanmodel, moet goed beplan word. Hantering, paddinamika en balans is uitstekend met uiters lae vlakke van wind- en padgeraas by beide die sedan en luikrug wat uiteraard beïndruk het.
Die 2.0 liter-Astina is egter 'n heerlike motor om te bestuur met 'n onderstel en veerstelsel wat myns insiens nuwe standaarde stel in hierdie segment en 'n kajuit wat uitstekend geïsoleer is van vibrasies en enjingeraas, danksy Mazda se “G-Vectoring Control Plus”-tegnologie by die nuwe onderstel.
Myns insiens bied die sedan 'n selfs meer gesofistikeerde rit as die luikrug, maar die sexy voorkoms van laasgenoemde het my hart gewen.
Die handratkas is 'n juweel en die uitstekende ritgehalte en goeie dinamika van die 1,5 liter waarmee ons ook gery het, vergoed byna vir die gebrek aan oemf. Ek vermoed egter dat die 1,5 liter veel beter by die kus gaan doen.
Die 2019 Mazda 3 is ook vroeër vanjaar met maksimum 5 sterre in die gesaghebbende Euro NCAP se veiligheids- en botsingtoetse bekroon.
Terwyl die nuwe Mazda 3 visueel tref, beperk die C-pilaar se ontwerp by die luikrug sig na agter. Dit is omtrent die enigste negatiewe kommentaar wat ek teen die nuweling kan inbring, maar dan is die luikrug se ontwerp so treffend dat ek persoonlik daarmee sal kan saamleef.
Die ander negatiewe aspek mag dalk die nuweling se prys wees. Met 'n veel duurder pryskaartjie as die uitgaande model, bied die nuwe Mazda 3 egter luukser afwerking, hoër vlakke van standaard toerusting, beter ritgehalte en paddinamika en is in geheel 'n veel meer gesofistikeerde voertuig.
Boonop seker die mooiste Mazda ooit!
Ingesluit by die aankoop van elke nuwe Mazda 3 is 'n standaard 3 jaar- onbeperkte kilometer-diensplan, 'n 3 jaar-fabriekswaarborg, 'n 3 jaar- padbystanddiens asook 'n 5 jaar-roeswaarborg.