Stadsraad grootste water morsjorse

Terwyl inwoners gemaan word om water te spaar te midde die droogte, geniet lekkasies by die munisipaliteit min aandag.
Yolanda Nel
Yolanda Nel

Twee maande ná ’n lekkasie by die munisipaliteit aangemeld is, het die navraag uiteindelik aandag geniet en is dit herstel.

’n Inwoner van Windhoek sê die lekkasie was aan die munisipale kant van haar erf en, “gelukkig het dit nie op ons rekening verskyn nie,” het sy gesê. Toe werknemers van die Windhoekse stadsraad uiteindelik Maandag by hulle huis opdaag om na die lek te kyk, het hulle die inwoner meegedeel hulle is toe vir die eerste keer van die probleem ingelig.

“Dit beteken mos dat die kantoor wat klagtes ontvang nie die boodskap oordra nie,” het die inwoner gesê. Daar is geen manier om vas te stel hoeveel water in die tydperk gemors is nie.

Klagtes
Volgens die inwoner is kommunikasie van die kantoor wat die oproepe en klagtes ontvang na die kontrakteurs nie goed nie. “Of iemand doen nie sy werk nie, of die kommunikasie is nie voldoende nie en daar word nie opgevolg nie,” verduidelik sy.

Hierdie blyk ’n algemene klagte te wees dat lekkasies nie spoedig herstel word nie – dit juis nou wanneer die stadsraad inwoners maan om water te spaar. “Wanneer jy probeer om ’n probleem aan te meld, vat dit vreeslik lank want óf die telefone is aanhoudend beset óf dit word net doodeenvoudig nie geantwoord nie,” sê sy.

Sy sê dit was vir haar ’n groot frustrasie om die probleem aan te meld. “As die algemene instandhouding van die infrastruktuur beter was, behoort die hoeveelheid lekkasies beslis te verminder,” het sy raad gegee oor hoe die probleem verminder kan word.