Sterftesyfer bly klim

Yolanda Nel
Yolanda Nel

Mense wat tussen 20 en 27 Augustus vanjaar tydens motorongelukke gesterf het, het die dodetal vanaf 445 tot op 496 te staan gebring.

Volgens die Motorvoertuigongeluksfonds (MVAF) se webwerf, is daar tussen Januarie vanjaar en 27 Augustus minder ongelukke in vergelyking met verlede jaar oor dieselfde tydperk aangemeld. Terwyl die getal ongelukke op 2 639 staan, is minder beserings opgedoen – altesame 4 662 vanjaar teenoor 4 812 in 2016. Die aantal sterftes vanjaar op die land se paai is egter 34 meer as verlede jaar in dieselfde tyd.

Volgens Henriëtte Crouse van die STAND Sober-veldtog wat op 1 Augustus afgeskop het, begin hulle harde werk vrugte dra.

“Ons sien ’n verandering in bestuurders,” sê sy.

Volgens haar was ’n span twee weke gelede in Evelynstraat om die straat, gewild vir sy kuierplekke, te patroleer. “Geen ongelukke is daardie aand daar aangemeld nie,” sê sy.

Tog sê Crouse dat dit nie net dronk bestuurders is wat ongelukke veroorsaak nie. “Bestuurders in die algemeen vat onnodige kanse op die pad.”

Voetgangers is ewe onverskillig. Volgens 'n polisieverslag is 'n man Maandag net na 17:00 op die Westelike verbypad raakgery en het weens die aard van sy beserings beswyk.

Windhoek Express het navrae ontvang dat passasiers ook getoets word vir alkoholgebruik. Vrae aan belangegroepe oor óf passasiers ook getoets word en of dit nie die data gaan beïnvloed nie, is teen druktyd nog onbeantwoord gelaat.

Die STAND Sober-veldtog het ten doel om daagliks 2 500 mense af te trek en te toets vir alkohol om bestuurders wat onder die invloed van drank bestuur, te verminder. Die veldtog duur tot Desember. Die veldtog word moontlik gemaak deur finansiële steun en enige onderneming wat hierby wil betrokke raak, kan Crouse by [email protected] kontak.