Straatkinders steeds ’n probleem

Gerine (WE) Hoff
So rukkie terug het al die koerante oor straatkinders berig. Dan is die kinders weer ’n rukkie nie op straat te sien nie. Ek vermoed al wat ’n maatskaplike werker is, hardloop dan uit om seker te maak van die kinders kom by ’n shelter uit en kry darem ’n bord kos om te eet.

Maar dan hou die media op berig en as jy jou oë uitvee, dan staan die kinders weer bakhand langs die pad en bedel.

Ons kan shelter na shelter oprig en sopkombuis na sopkombuis oopmaak, maar ons kan nie die kinders dwing om daar te bly nie. Ja, daai mense wat die liefdadigheidsorganasies bestuur is engele reg uit die hemel en hulle doen goeie werk. Hulle maak seker ’n kind slaap warm en met ’n vol maag, maar môre gaan staan hy weer daar en is dit vir baie van hulle lekkerder op straat, want hy verdien ’n paar dollar, of dit nou vir brood of dagga is, wel wie gaan weet?

Daar moet strukture in plek wees om te verhoed dat hulle selfs een dag op straat staan. Ons land het nie ’n plek waar ma’s wat nie ma’s wil wees nie, haar kinders in ’n veilige plek kan gaan aflaai en weet daai kind gaan tog ‘n beter lewe hê nie.

Natuurlik is ’n projek soos dit nie so maklik soos dit nie, maar ons kan tog iewers begin om die probleem te verlig, of hoe?