Uitdaging 2020: Verminder padongelukke

Yolanda Nel
Met meer as 650 lewens wat reeds vanjaar op Namibiese paaie verloor is, is die uitdaging om teen 2020 padsterftes en ernstige beserings te halveer.

“Ons moet eienaarskap aanvaar en verantwoordelikheid neem vir padveiligheid. Die polisie is nie hier om mense te beskerm wat mekaar op ons paaie doodmaak nie,” het Amalia Gawanas, hoof van Verkeerswetstoepassing van die Namibiese polisie gesê.

Die Nasionale Padveiligheidsraad (NRSC) het Sondag die sewende Afrika padveiligheidsdag met ’n biddag in die hoofstad herdenk. Die tema vir vanjaar se verrigtinge was “2020 uitdaging: verminder padsterftes en beserings met die helfte.

Gawanas het gesê Namibiërs het geen verskoning nie, omdat die padtoestande in hierdie land baie beter is as in vergelyking met ander Afrika-lande.

Volgens die minister van werke en vervoer, Alpheus !Naruseb, moet padverbruikers hul houding verander. “Padongelukke is die gevolg van ’n mislukking in die stelsel. Dit gaan nie verander omdat ons daaroor praat nie. Dit gaan net verander as ons iets daaraan begin doen,” het hy gesê.

!Naruseb het gesê dat deur te bid, enigheid bereik kan word. “Kerke is belangrik wanneer ons oor padveiligheid praat, want dit is ons kerklidmate wat in motorongelukke sterf,” sê hy.

Sowat 200 mense het die geleentheid bygewoon.

Die vieringe was in samewerking met die NRSC, die Motorvoertuigongeluksfonds, die Raad van Kerke in Namibië en talle privaatsektor maatskappye.