Veiligheidstrust vir fietsryers kom
02 December 2019 | Accidents
Windhoeker vuur en vlam om seker te maak fietsryers en voetgangers word ook op die paaie
gerespekteer.
Johan Vorster, eggenoot van die bekende fietsryer Michelle, meen die onlangse dood van Ingrid van
Wyk-Scholtz op die westelike verbypad was tragies en onnodig. Michelle was self in April vanjaar in
’n ongeluk toe ’n motor haar raakgery het.
“Dit is juis om hierdie rede dat ons as Namibiërs moet saam staan,” sê Vorster. Hy en ’n paar
belanghebbendes is besig om ’n trust te stig om finansiële bystand te lewer aan fietsryers wat in
ongelukke betrokke is. “Sake soos hierdie verdwyn uit ons howe en skuldiges loop skotvry daarvan
af,” vertel hy. Hofsake word gereeld vir maande uitgestel en dit word vinnig ’n jaar of twee voor daar
daadwerklik aandag aan ’n saak geskenk word.
Vorster is tans besig om aan voorstel te werk wat aan die Namibiese Fietsry Federasie, die
Namibiese Olimpiese Komitee, sowel as aan die burgemeester van Windhoek voorgelê gaan word.
“Ons beoog dat die wet verander en dat motoriste ten alle tye 1.5m van ’n fietsryer moet wees.”
Windhoekse prokureur Theo Barnard wat onlangs self in ’n fietsry-ongeluk betrokke was,
ondersteun Johan se plan ten volle. Barnard is tydens ’n oefensessie vir die Desert Dash deur ’n
ondersteuningsvoertuig raakgery. Volgens inligting was die man wat die voertuig bestuur het, baie
onverskillig. Barnard het sy heupbene gebreek en verbeur nou die geleentheid om in vanjaar se Dash
deel te neem vanweë sy beserings.
Barnard het aan Vorster gesê dat hy die projek ondersteun en enige regsadvies gratis sal lewer.
Hierdie projek is nog in die beginstadium, maar Vorster en die span is reg om in die nuwe jaar seker
te maak fietsryers het ook ’n reg op die pad.