Wat gaan met die mensdom aan?

Mariana Balt
Deurmekaar skryf:

Dis darem snaaks hoe mense verskil.

En ek praat nou nie van kleur, kultuur, nasionaliteit of iets nie.

Met die droogte wat die land beleef het, was almal bekommerd, maar sommige het hoopvol gebly en ander het heeltyd gekerm en alles en wat nog die skuld daarvoor probeer gee. Een groep het heeltyd bly glo dat die Hemelse Vader hul gebede sal verhoor en reën gee, terwyl die ander verkondig het dat God ons straf oor 'n klomp goed wat verkeerd is.

Toe die reën uiteindelik kom, het een groep amper letterlik in die reën gedans, terwyl ander gekla het oor paaie wat verspoel, funksies wat uitgereën het en sommer ook omdat die damme nie vinnig genoeg vol word en waterbeperkings opgehef word nie.

Sommige kon hul Hemelse Vader nie genoeg dank nie, ander het hulle weer daarop gewys dat reën 'n natuurverskynsel is wat deur klimaatsomstandighede gevorm word, en nie iets wat Iemand uit die hemel uit sit en gooi as Hy genoeg versoeke daartoe kry nie.

Soggens as ek werk toe ry, sien ek daardie verskil ook raak. Party mense gee nie net vir jou kans om uit 'n dwarsstraat voor hulle in te draai nie, hulle groet jou ook sommer as jy dit doen. Ander weer, druk hul motors se neuse tot so teenaan die motor voor hulle, dat nie eens 'n muis daar sou kon indruk nie. En hulle gluur jou behoorlik aan asof jy deur die kat ingedra is.

Dan dink ek soms dat dit geen wonder is dat mense van verskillende rasse of kulture nie altyd oor die weg kom nie. Wat gaan tog met ons mensdom aan?