Zz Voorbladfoto

Mariana Balt
Waarna hy die meeste uitsien, is om mense se gesigsuitdrukkings te sien wanneer hulle die eerste keer Windhoek se nuutste, grootste en modernste inkoopsentrum besoek, sê mnr. Kallie van der Merwe.
Hy is die uitvoerende hoof van Safland, ’n aandeelhouer in Frontier Property Trust, een van die maatskappye wat The Grove Mall of Namibia besit.
Benewens die groot verskeidenheid produkte wat in die vele winkels be­skikbaar is, is veral probeer om aan ’n ander groot element te voldoen wat inkopiepatrone beïnvloed, naamlik mense se aspirasies.
“ Selfs vir die mens wat nie baie geld het nie, sal dit ’n verrykende ervaring wees om op die ingevoerde marmerteëls deur die gange te stap,” glo Van der Merwe.
Want al is inkopiejagters in die stad reeds jare lank gewoond aan gerieflike winkelsentrums, kan hulle veel nuut hier verwag. Die sentrumuitleg volg ’n moderner tendens met kronkelgange wat nie slegs die verrassingselement verhoog nie, maar ook veroorsaak dat winkels se uithangborde beter vertoon. “Én dit spog met vier stelle roltrappe, wat waarskynlik die aantal roltrapryers in die stad sal verdubbel,” lag hy.
Daar is lank en hard aan die ontwikkeling van die sentrum gewerk, vertel Van der Merwe oor die navorsing en markstudies wat sedert 2010 gedoen was.
“Alles het daarop gedui dat hier ’n behoefte aan en ruimte vir die ekstra 67 000 m²-kleinhandelruimte is. Die finale produk is beslis ’n volgende stap in die proses om Windhoek se status tot dié van ’n wêreldstad te verhoog.”
Met al die ontwikkelinge rondom die inkoopsentrum, wat ’n hospitaal, hotel, gimnasium en hardeware-megasentrum insluit, sal hierdie sakekern waarskynlik ook ’n groot impak op kleinhandeltoerisme hê, hoop die ontwikkelaars.
“Baie mense reis deesdae met die doel om inkopies te doen en aangesien die Grove Mall of Namibia die grootste en modernste sentrum in Afrika suid van die Sahara is, Suid-Afrika uitgesluit, bied dit ’n veilige inkopiebestemming vir besoekers uit veral Angola, maar ook ander buurstate.”
Die winkels bied nie net meer en nuwe produkte nie, van die kettingwinkels gebruik nuwe uitlegkonsepte en die moderne Ster-Kinekor rolprentteaters gebruik van die nuutste tegnologie op die gebied.
Die parkeerplekke is so ontwerp om op die verskillende winkelvlakke uit te loop sodat bejaardes en diegene wat moeilik beweeg nie trappe hoef te gebruik nie. Individuele parkeerruimtes is ook ’n hele paar sentimeter groter as enige ander in die stad.
Dat die sentrum se bedryf ’n effek op Windhoek in geheel sal hê, is ’n feit. Heelwat meer as 1 000 werkgeleenthede is met die inbedryfstelling in die kleinhandelsektor geskep. Van der Merwe glo die opening van hierdie sentrum hoef nie noodwendig ander sentrums negatief te beïnvloed nie.
“Die middestad se winkels word genoegsaam ondersteun deur werkers en toeriste en hierdie patrone sal nie verander nie. Enige impak wat dit op ander sentrums mag hê, kan teengewerk word indien die inkopie-ervaring daar ook aantrekliker en geriefliker vir mense gemaak word.”
Noudat die meeste van die harde werk agter die rug is, hoewel Van der Merwe sê mense moet nie verwag "alles sou perfek wees toe die eerste deure vanoggend oopgemaak het nie", is almal verlig dat die hele proses sonder noemenswaardige voorvalle verloop het.
“Selfs die feit dat sowat 2 miljoen werkerure sonder ernstige beserings voltooi is en die enigste oponthoud as gevolg van stakings in Suid-Afrika was, het ons veel om voor dankbaar te wees,” sê Van der Merwe.
“En hopelik sal huiseienaars in die omgewing ons vir die baie stof vergewe as hulle besef dat eiendomswaardes in die gebied reeds in sekere gevalle 40% hoër as ’n jaar gelede is.”
Alles in ag geneem, sal die vraag “hoekom moet ons vandag na die Grove Mall of Namibia gaan,” een van die dae waarskynlik na “hoekom sal ons nié soontoe gaan nie?” verander.